’n Bolide of ’n vuurbal – ’n baie helder meteoriet – wat ontplof het, het waarskynlik die harde geluid wat inwoners van die Suid-Kaap Maandagoggend omstreeks 01:00 gehoor het, veroorsaak. Dit is die mening van Tim Cooper, ’n komeet-, asteroïed- en meteorietspesialis van die Astronomical Society of Southern Africa, oor die verskynsel wat mense behoorlik Maandag aan die praat gehad het.
Op Facebook het mense van Riversdal tot George, Mosselbaai, Oudtshoorn en Rietbron vertel van ’n harde dreuning “soos donderweer” of ’n “harde slag” wat hulle gehoor het of wat hulle wakker gemaak het.
“Daar was ’n diep en lang dreungeluid. Dit het geklink soos iets tussen donderweer en ’n lang, uitgerekte ontploffing in Oudtshoorn,” het Herman Labuschagne op die Facebook-blad Mosselbaai op sy beste geskryf.
Baie mense het op dié blad gereageer toe Johan Venter gevra het of ander mense ook die ligstraal gesien het. Volgens hom het hy ’n straal lig gesien wat baie vinnig beweeg en hoog bo die grond ontplof het. Hy skryf dit het gelyk soos ’n verskietende ster wat baie naby was.
Cooper het ook op die blad gereageer en gevra dat mense met sekuriteitskameras kyk of hulle die lig van die ontplof-fing op hul beeldmateriaal vasgevang het sodat die roete van die meteoriet bepaal kan word.
“As dit ’n bolide was, sou dit as ’n helder flits sigbaar gewees het enkele minute voor die geluid, wat die skokgolwe was van die meteoriet wat deur die atmosfeer beweeg het.”
Die Southern Cape Astronomy Club het in reaksie op ’n navraag van Die Hoorn ook aangedui dat terugvoer tot dusver aandui dat dit ’n meteoriet, en waarskynlik ’n bolide, was; en aangedui dat hulle besig is om die roete, rigting en selfs ’n moontlike plek van impak (as daar een was) van die meteoriet te probeer bepaal.
Iemand wat dadelik vermoed het dit is ’n meteoriet omdat hy al so ’n verskynsel op TV gesien het, is ’n Oudtshoorniet, Denver Jansen, wat Maandagoggend om 01:20 die volgende inskrywing oor wat hy pas gesien het, op Facebook geplaas het (vertaal uit Engels):
“Lees as jy op Oudtshoorn bly. Ek maak nie ’n grap oor wat nou net gebeur het nie. Ek is wakker gemaak deur mense wat dronk was. Terwyl ek deur die venster kyk, sien ek twee of drie flitse in die lug en toe hoe ’n meteoriet uitbrand.
“Na omtrent ’n minuut staan ek in my kamer en wag vir die geluid en net toe ek by my bed kom, brul ’n klank soos die van donderweer oor die omgewing.
“My ma het gevra wat die geluid was, en gelukkig kon ek aan haar verduidelik wat pas gebeur het. Basies het ’n groot rots uit die lug geval en uitgebrand.
“Dit was skrikwekkend om dit te sien, maar ek is dankbaar God het my die kans gegee om so ’n wonderlike gebeurtenis te kon sien en te hoor.”
Die Hoorn kon nie daarin slaag om Jansen voor druktyd te bereik nie.
• Stuur inligting/videos na elephantcastle@lantic.net en/of vul ’n vorm in by https://assa.saao.ac.za/ contact-us/report-a-sighting/
(Deur Liesel le Roux)
Nagtelike ‘donderslag’ kon ’n meteoriet wees
Dié kaart met geel merkers waar mense Maandagoggend vroeg die meteoriet gesien het, is deur Tim Cooper van die Astronomical Society of Southern Africa op Facebook gedeel.