’N JONG vrou van Dysselsdorp, Sandra (Sandy) Marnewick, het Saterdagaand (7 Augustus) ’n grudood gesterf toe die struktuur waarin sy in die informele nedersetting Heinzview op Dysselsdorp gewoon het, tot op die grond afgebrand het.
Volgens adj-off Fred Snyman van die Dysselsdorp Polisie het inwoners van die brand in die huis bewus geraak toe ’n buurvrou omstreeks 22:00 gille gehoor en gaan ondersoek instel het.
Die oorsaak van die brand is nie bekend nie.
Voordat Marnewick doodgebrand het, het sy daarin slaag om haar sesjarige dogter, Amara, te midde van die vlamme deur ’n venster na buite aan te gee.
Inwoners kon egter nie daarin slaag om haar ook te red nie.
Amara word tans in die waakeenheid van die George Hospitaal behandel.
’n Gemeenskapsleier van Dysselsdorp, Leon Campher, het vandeesweek verskeie inwoners – Petrus Meyer, Frieda Avontuur, Rita Anthonie en Scheepers October – op Facebook bedank vir die wyse waarop hulle Marnewick en haar dogter te hulp gesnel het.
Volgens Campher was dit boonop Dinsdag (10 Augustus) presies 17 jaar gelede sedert Marnewick se ma, broer en ouma ook in ’n huisbrand gesterf het.
Campher het ’n kranslegging vir Marnewick gereël vir gistermiddag.
Jong ma sterf grudood nadat sy dogtertjie (6) uit vlamme red
Sandra (Sandy) Marnewick. (Foto verskaf.)