DIE eienaars van drie opslaanhutte in Hopeville, die informele nedersetting tussen die Oudtshoorn Gholfbaan en die begraafplaas, het Sondagaand feitlik al hul besittings verloor toe ’n brand hul woonplekke verswelg het.
Dit was die eerste brand in Hopeville sedert informele strukture ’n jaar of twee gelede op dié stuk grond opgerig is.
Volgens Mauricia Kumutu het die brand omstreeks 22:00 Sondagaand in die ghetto van ’n man ontstaan wat alleen gewoon het. Hy het glo vuur binne die ghetto gemaak en toe dit brand homself uit die voete gemaak.
“Die vlamme het vinnig versprei en in ’n ommesientjie was ek en my broer, Diego, se hutte ook aan die brand. Ons kon feitlik niks red nie en moes net vinnig padgee. Pogings saam met bure om die vlamme te blus was onsuksesvol, maar danksy die vinnige optrede van die munisipale brandweer is verhoed dat nog hutte uitbrand,” sê Mauricia.
Haar broer, Diego, wat saam met sy kind in ’n ghetto langs hare gewoon het, het ook feitlik al sy besittings verloor.
Volgens hom is hulle swaar getref maar dankbaar dat niemand enige brandwonde opgedoen het nie.
“Ons kon betyds uitkom, maar wat sou gebeur het indien ons aan die slaap was?”
Volgens die Kumutu’s was die man wat die vuurgemaak het, die volgende dag nêrens te vinde nie. Hulle oorweeg dit om ’n klagte teen hom by die polisie in te dien.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit het volgens Mauricia hulp belowe in die vorm van boumateriaal sodat hulle hul hutte kan herbou.
Mense wat die broer en suster kan help met klere, meubels of enige ander skenking kan Mauricia skakel by 083 579 0916 of dit na Hopeville neem.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word geen saak ondersoek nie. (Deur Garnett Wicomb)
Drie huise tussen gholfbaan en begraafplaas brand af
Diego Kumutu by die uitgebrande planke van sy opslaanhut. Foto: Garnett Wicomb