DAAR was ’n drastiese toename in Covid-19-infeksies in die Groter Oudtshoorn sedert verlede week Maandag, sê die Oudtshoorn Munisipaliteit in ’n mediaverklaring wat gister uitgereik is.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, het getalle tussen Maandag, 2 Aug-ustus en Maandag, 9 Augustus vanaf 411 nuwe infeksies tot 678 geklim, ’n styging van 64,9%. Sedert Dinsdag het getalle effens begin daal.
Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het Vrydag ’n skerp bewoorde persverklaring uitgereik waarin daarop gewys word dat dié skerp toename volg op onwettige massabyeenkomste en nalatige gedrag deur inwoners wat nie Covid-19-regulasies soos die dra van maskers, vermyding van oorvol plekke en sosiale afstand handhaaf nie. Die onlangse Vlakkie-kriekettoernooi en ander byeenkomste word onder meer genoem.
Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het verlede week reeds inwoners se nalatigheid om Covid-19-regulasies na te kom, as teleurstellend en selfs lewensgevaarlik bestempel.
“As jy nie waarde heg aan jou eie lewe nie, toon dan ten minste dat jy waarde heg aan die lewens van jou eie familie en vriende. Ons hospitale is reeds vol en ons het nog nie eers die piek van die huidige moordadige golf bereik nie.”
Hy het inwoners ook aangemoedig om vir die entstof te registreer.
Meer as 100 000 entstof-dosisse hier
Die Tuinroete Distrik verwag meer entstof teen volgende week sodat meer inwoners ingeënt kan word. Dié distrik het die begin van vandeesweek reeds 100 000 mense ingeënt.
Dit sluit inentings by die inentingslokale asook uitreikaksies in landelike gebiede, asook na plaaswerkers en mense op straat in.
Daar is 37 openbare inentingslokale en 13 privaat-inentingslokale in die distrik
Oudtshoorn is tans die munisipale distrik met die laagste registrasiesyfer vir entstof in die Tuinroete-distrik.
Staatshospitale bly onder druk
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid in die Tuinroete Distrik, was daar was Dinsdag 85 Covid-pasiënte in die George Hospitaal, met 20 van die pasiënte in die hoësorgafdeling. Die Covid-saal daar is 100% vol en die hoësorgeenheid 83% vol. Ook die Harry Comay Hospitaal, ’n oorgangsfasiliteit vir die George Hospitaal, is onder druk met 22 pasiënte in die twee sale.
Al die ander openbare hospitale in die streek is druk besig met ’n styging in opnames. Suurstofbeskikbaarheid is voldoende. (Deur Liesel le Roux)
Covid-infeksies klim, maar entstof-registrasie laagste in distrik
