SY is ’n kind van Die Lane in Oudtshoorn, vertel Helen Human, adjunk-direkteur verpleging in die Oudtshoorn-subdistrik, waar sy in haar kantoor by die Oudtshoorn Hospitaal met Die Hoorn gesels.
Om groot te word in ’n woonbuurt wat bekend is vir armoede het hierdie dinamiese vrou egter nooit teruggehou nie. Dit was ook nooit vir haar ’n verskoning om nie te presteer nie. Inteendeel, sê sy: “Ek dink die hele verloop van my lewe is net so ’n groot seën.”
Sy vertel: “Ek was een van elf kinders. Ons het in Elfde Laan grootgeword, maar ek kan eerlik sê dat ek nooit arm gevoel het terwyl ek grootgeword het nie. Vandag besef ek ons was brandarm, maar armoede het in my grootwordjare nooit eers by my opgekom nie. Die eerste keer wat ek bewus geraak het dat ek minder aardse besittings as ander het, was toe ek uit die huis gegaan het om te studeer. Ek het toe besef ek het minder klere as my studentemaats…”
Sy was van jongs af ’n presteerder wat uitgeblink het op skool. In matriek in 1984 was sy hoofmeisie van Bridgton Senior Sekondêr – dié skool se eerste hoofmeisie uit Die Lane!
Voordat sy met haar verpleegopleiding by die Nico Malan Verpleegsterskollege in Kaapstad in 1987 begin het, het sy eers twee jaar lank vere op Oudtshoorn geklas.
“Ek het altyd gesê en dan lag die ander so: Om te dink jou salaris word per gewig betaal, en ’n veer is die ligste ding in die wêreld!
“Dit was egter alles deel van my vormingsjare. Ek glo ’n mens moet aanhou om jouself te verbeter, ongeag jou omstandighede: Hard work does pay off.”
Om te studeer was altyd vir haar ’n vreugde, en iets wat sy tot onlangs nog gedoen het toe sy ’n bestuurskursus voltooi het. Dit het daartoe gelei dat haar twee volwasse kinders, Carissa Boezak (29) en Quewan Human (27), begin het om haar ‘die ewige student’ te noem, vertel sy glimlaggend. Saam met haar kinders is haar kleinseun, Kiro Boezak (2), die groot vreugdes in haar lewe.
Na haar studie, waartydens sy baie van haar vakke cum laude geslaag het, het sy twee jaar by die George Hospitaal gewerk voordat sy teruggekeer het na haar geboortedorp. Sy het ook onder meer ’n nagraadse kwalifikasie in verpleegbestuur aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
In haar loopbaan was sy 25 jaar lank ’n vroedvrou, met 15 jaar daarvan die bestuurder van die kraameenheid op Oudtshoorn.
“Ek het duisende kindertjies gevang! Die wonder van wanneer ’n welkome baba in die wêreld kom van ouers wat na hul baba uitsien, is ’n onbeskryflike gevoel. Ek mis dit vandat ek nie meer in die hospitaal self werk nie.
“Ek het na 25 jaar nog net so opgewonde geraak soos toe ek eerste keer by ’n geboorte was. As jy ’n pasgebore baba op die ma neerlê en jy sien daai eerste blik van daai ma – it is the most amazing thing. Dit is eintlik indescribable.”
Human is nou vyf jaar die adjunk-direkteur verpleging by die Oudtshoorn Hospitaal. Net voor dit was sy drie jaar lank die hoof van verpleegdienste by die Alan Blyth Hospitaal op Ladismith. “Dit was ’n baie spesiale tyd vir my. Die gemeenskap daar het my met soveel liefde ontvang en gekoester.”
Pandemie bring ook bymekaar
Hoewel die Covid-19-pandemie alles sedert verlede jaar oorheers, vertel Human hoe sy steeds daagliks positiewe dinge ervaar.
“Ek het byvoorbeeld soveel respek en bewondering vir my personeel. Hul uithouvermoë en toewyding inspireer my, veral as ek sien hoe swaar hulle kry as hulle kollegas verloor, hoeveel meer liggame hulle as gewoonlik in die Covid-saal moet uitlê en hoe hulle steeds net aangaan met hul werk. As ons byvoorbeeld ’n kollega verloor het, is almal so hartseer, maar dan lui daar ’n klokkie van ’n pasiënt en dan vee hulle hul trane vinnig af en gaan help daardie pasiënt.
“Partymaal voel ek ook gedreineer en dan vra ek myself af: Hoe motiveer jy jou personeel? Maar dan kyk ek na hulle krag en bemoedig dit my weer om aan te gaan en hulle te bemoedig en te vertroos. Ek het soveel respek vir hulle.”
Sy sê sy was diep geraak deur die intense emosie van personeellede toe sy onlangs besluit het om die dag net deur die hospitaal te loop en almal te bedank en te bemoedig om net nog ’n bietjie vas te byt en mekaar te ondersteun.
“Aan die begin van Covid was daar iets soos ’n angstigheid by almal. Daardie vrees en angstigheid is nou weg. Nou ervaar ek dat gesondheidswerkers met die grootste selfvertroue en vertroue te midde van die virus werk, baie bewus daarvan dat hulle kan aansteek.
“Dit laat my dink aan die uitdrukking: You never realise how strong you are until being strong is the only choice you have.”
Human sê dit geld ook vir al die ander “frontliners’ – soos sielkundiges, terapeute, mense in X-straalafdelings, skoonmakers, ens.
Sy sê sy is ook dankbaar dat naasbestaandes nou mense in sekere omstandighede in die Covid-saal kan besoek en sterwendes kan groet.
Daar is ook ander positiewe dinge – soos die samewerking en uitreiking na mekaar tussen verskillende gesondheidsektore asook tussen die privaat- en openbare gesondheidsektor. “Ons was nog nooit so naby mekaar nie, en het nog nooit sulke samewerking en uitreiking en ondersteuning gehad soos wat Covid-19 teweeg gebring het nie. Uit soveel hartseer is soveel mooi ook gebore.” (Deur Liesel le Roux)
Ook in die pandemie is daar daagliks iets positief
Helen Human, die Departement Gesondheid se adjunk-direkteur verpleging in die Oudtshoorn-subdistrik, in haar kantoor by die Oudts-hoorn Hospitaal waar spatsels vrolike rooi haar positiewe uitkyk op die lewe weerspieël. Foto: Liesel le Roux
So trots op my kollegga, saam deur die student jare getrek en steeds is sy dieselfde glimlaggende, doelgerigte mens georienteerde persoon. Klas 1987 Nico Malan Verplegings Opleiding Kollege salueer jou Helen James.. Keep up the good work. THE BEST IS YET TO COME
Hierdie dame is rerig remarkable… Sy beklee so n belangrike, hoe pos, maar tog is sy die nederigheid vanself!! I know!!!