’n Spesiale raadsvergadering om ’n nuwe onderburgemeester vir die Groter Oudtshoorn te verkies, vind môre (Donderdag 5 Mei) plaas.
Dit volg nadat ’n meerderheid van 13 van die Groter Oudtshoorn se 25 raadslede op 22 April ’n mosie van wantroue in Vlancio Donson (Icosa), die vorige onderburgemeester, aanvaar het. Die 13 raadslede verteenwoordig die ANC, OGI, die PA, Advieskantoor, Saamstaan en Good.
Donderdag se vergadering, wat aanvanklik Dinsdag sou plaasvind maar uitgestel is, vind om 10:00 plaas.
Hieroor het hulle nie Hendricks-mosie gesteun, sê drie partye
Hulle het ’n mosie van wantroue by die 22 April-vergadering in Walter Hendricks as waarnemende munisipale bestuurder nie gesteun nie omdat die regte prosedure nie gevolg is nie, sê raadslede van die DA, Icosa en die VF Plus.
Dié besluit wat ook deur die 13 raadslede van die ANC, OGI, die PA, Advieskantoor, Saamstaan en Good ondersteun is, is intussen deur die Hooggeregshof as onwettig verklaar.
Raadslid Chris Macpherson (DA) het op navraag gesê hy het tydens die vergadering raadslede gewaarsku dat die proses wat hulle volg om ’n munisipale bestuurder met ’n mosie te probeer verwyder, onwettig was. Volgens hom is daar ’n voorgeskrewe proses wat gevolg moet word om ’n munisipale bestuurder, wat ’n amptenaar in diens van die munisipaliteit is, te verwyder. Dit sluit onder meer ’n verslag in wat deur die burgemeester opgestel en deur die raad bespreek en goedgekeur moet word.
Ook raadslede Johan Allers (VF Plus) en Vlancio Donson (Icosa) het op navraag van Die Hoorn bevestig dat die VF Plus en Icosa nie die mosie gesteun het nie omdat die korrekte prosedure vir die verwydering van ’n senior bestuurder nie tydens die raadsvergadering gevolg is nie.