Meisies kan en móét ook krieket speel

Dillon Moos van Dill-Bill’s Krieketakademie op Oudtshoorn wys van die meisies van Fezekile Sekondêre Skool hoe om te kolf. (Foto’s verskaf)

MEISIE-LEERDERS van Fezekile Sekondêre Skool in Bridgton, Oudtshoorn het onlangs die kans gekry om meer oor die spel van krieket te leer, te danke aan ’n afrigtingskliniek gehou deur Dill-Bill’s Krieketakademie.

Die akademie is in 2019 deur Dillan Moos op die been gebring, met die oog daarop om terug te ploeg in die jonger gemeenskap van die Groter Oudtshoorn, veral met kinders wat uit minderbevoorregte areas kom, deur die sport van krieket. Die akademie poog ook om krieket op skoolvlak te bevorder.

Sedertdien het die akademie van krag tot krag gegaan.

Die mikpunt van die kliniek wat by Fezekile aangebied is, volgens Moos, is om meer meisies bewus te maak van die “wonderlike” spel van krieket, om ’n aktiewe leefstyl te bevorder, en om pret daarmee te hê terwyl hulle van ’n jong ouderdom af ontwikkel word in die spel.

“Mens weet nooit, van hierdie meisies mag dalk in die toekoms die geleentheid kry om provinsiale spanne, of selfs die nasionale span te behaal, maar ons moet hulle belangstelling in die sport kweek, en ons moet hulle ontwikkel,” sê Moos.

Moos voeg by dat die dag nie moontlik sou wees sonder die ondersteuning van die skoolprinsipaal en -personeel nie. Vier van die meisies het ook uitgestaan tydens die kliniek, en Moos het aan elkeen ’n akademie t-hemp oorhandig. (Deur Stefan Skapie Goosen)