LANGENHOVEN Gimnasium ’n Hoërskool geleë in Oudtshoorn, se krag probleem tydens beurtkrag behoort eersdaags iets van die verlede te wees.
Die Hoorn het met die skool se skoolhoof, Stephanus Potgieter gaan gesels oor hierdie nuwe opwindende opgradering. Die skool het onlangs sonpanele, wat sowat 215KVA se krag kan opwek en verskaf, op die skool se dak laat installeer.
Die projek is amper op sy einde met die batterye, omskakelaar en kragopwekker wat volgende ingesit word.
“Met Covid-19 moes ons alternatiewe maniere vind om ons klasse en leermateriaal aan leerders te stuur, en dit het die gebruik van tegnologie baie meer op die voorgrond gebring,” vertel Potgieter.
Oudtshoorniete is al te bewus van die voortdurende veranderinge in kragskedules, wat vooruitbeplanning bemoeilik.
“Dit maak ongelukkig dat digitale onderwys ongedaan raak, en moes ons eenvoudig ’n plan maak om te sorg dat skoolwerk sonder enige onderbrekings voortgaan,” sê hy.
Die skool is egter nie off-grid nie, maar die batterye sal deur die dag deur die sonpanele gelaai word, en deur die aand met Eskom krag. Die skool sal ook ’n allemintige 30% besparing op hul elektriese rekening hê, wat aan ander opgraderings by die skool spandeer sal word.
“Ons beplan om die besparing aan te wend tot voordeel van onderwys en leerders, soos om lug-reëlings in klaskamers te installeer,” vertel Potgie-ter. “Die stelsel is ook so ontwerp dat ons later, sou dit nodig wees, meer panele kan byvoeg en meer krag kan opwek.”
Die skool is uiters opgewonde oor die nuwe stelsel, en sal dit ook verseker dat onderwys altyd effektief kan voortgaan, die skool ten alle tye bereik kan word deur middel van die telefoon stelsels, alle rekenaars in rekenaarlokale werk, en alle administratiewe funksies vlot sal verloop.
Fase twee word in die nabye toekoms vir die koshuise beplan. (Deur Angelique Erasmus)
Sonkrag eersdaags vir Gim tydens beurtkrag
