
DIE borgaansoek van die vrou wat op die moord van rugbyspeler, Boutros (Boelie) May aangekla word, is Dinsdag (16 Mei 2023) in die Oudtshoorn landdroshof vir uitspraak uitgestel na volgende week.
Die hofsaal was al vroegoggend stampvol met familie, vriende en ondersteuners van beide die oorledene asook die beskuldigde.
Felicia Afrika (24) word daarvan aangekla dat sy die oggend van 12 Februarie vanjaar naby ’n kuierplek in St Johnstraat vir May met ’n skerp voorwerp in die skouer gesteek het. Hy is later in die hospitaal oorlede.
Leon Campher, Oudtshoorn raadslid, gemeenskapsleier van Dysselsdorp en stigter van die organisasie Oudtshoorn Community Againste Crime (OCAC) het die hof meegedeel dat hy die mondstuk van die “hele gemeenskap” is.
Hy het verder gesê die gemeenskap is moeg vir misdaad en dat daar na die moord op May “hordes” dreigemente na sy plasing op Facebook uitgekom het. Dit is om dié rede dat hy die hof versoek om nie borgtog aan Afrika toe te staan nie.
Van die reaksie wat hy op Facebook gekry en Dinsdag in die hof voorgelees het, lui dat Afrika “binne” moet bly omdat sy glo nooit veilig sal wees in Oudtshoorn se strate nie.
Campher het egter aan die gemeenskap gesê om nie die reg in eie hande te neem nie en dat hy sy hande in onskuld sal was indien daar wel iets met Afrika gebeur omdat sy borgtog sou kry. Campher het met die verdediging saamgestem dat ’n beskuldigde onskuldig is totdat hy/sy deur die hof skuldig bevind word.
Die ondersoekbeampte, ao Morné Janse van Rensburg, en die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, staan borgtog teen omdat Afrika die staatsgetuies ken en hul moontlik sal probeer beïnvloed om nie in die saak te getuig nie.
Volgens Laubscher is dit ’n bron van kommer dat Afrika besluit het om nie self te getuig en vrae van die staat te antwoord nie.
“Dit is in belang van geregtigheid dat borgtog nie toegestaan word nie.”
“Die beskuldigde ken die staatsgetuies van wie een haar kêrel is en sy reeds met van hulle gepraat het.
Die saak van die staat kan beduiwel word indien borgtog toegestaan word,” het Laubscher betoog. Afrika se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, vra egter die hof vir borgtog omdat sy nie ’n vlugrisiko is nie, oor ’n vaste adres beskik en geen vorige veroordelings het nie.
Volgens hom is dit nie korrek dat sy staatsgetuies sal probeer beïnvloed of die ondersoek sal belemmer nie. Daar is volgens die ondersoekbeampte nog drie verklarings uitstaande.
Afrika sê in ’n verklaring dat sy nie weet wie die staatsgetuies is nie en onderneem om nie met enige getuie in te meng nie.
Volgens Swanepoel het die staat nie genoeg bewyse gelewer vir die weiering van borgtog nie en dit wel in belang van geregtigheid is dat sy kliënt op borgtog vrygelaat word.
Swanepoel het Campher se plasings op Facebook as baie onverantwoordelik vir ’n “sogenaamde gemeenskapsleier” beskryf wat in die hof sê dat hy sy hande in onskuld sal was.
Die aansoek dien voor landdros Stephanie Strydom en is vir uitspraak tot 24 Mei uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)