TWEE bekende Oudtshoorniete, John en Olga Minnie, was Saterdag 13 Mei, ongeveer 18:10 in ’n ernstige motorongeluk betrokke.
Die ongeluk het op die hoek van Baron van Reede- en St Savoiurstraat plaasgevind, reg oorkant die egpaar se besigheid, Bushman’s Curios.
Die Hoorn het kringtelevisie-materiaal bekom van die ongeluk.
Op die kringtelevisie beeldmateriaal kan gesien word hoe die Minnie-egpaar in hul blou Toyota Rav van Oudtshoorn se dorp se kant af aangery kom, stop, en daarna regs draai.
’n Maroen Volkswagen Jetta kom vanaf ’n noordelike rigting (Kango Grotte se kant), en tref die Minnie’s se voertuig op die passasierskant.
Die impak laat die Toyota Rav in die rondte tol voor dit tot stilstand kom in die teenoorgestelde baan, met die neus wat na die aankomende verkeer se kant toe wys.
Daar kan ook op die video gesien word hoe die passasier halflyf deur die passasiersvenster val.
Noodpersoneel is na die toneel ontbied, en beide Minnie’s is in ’n kritieke toestand eers na die Oudtshoorn hospitaal geneem, en daarna na George oorgeplaas.
John Minnie is intussen na die Groote Schuur hospitaal in Kaapstad oorgeplaas, en is steeds in ’n kritieke toestand.
Die bestuurder van die Volkswagen Jetta het nie ernstige beserings opgedoen nie en is nie na die hospitaal geneem nie.
Volgens informasie wat Die Hoorn bekom het, het Minnie veelvoudige kopbeserings opgedoen, waaronder ’n skedelbreuk en bloeding op die brein is. Hy ook tans op ’n kunsmatige asemhalingsmasjien, maar in ’n stabiele toestand.
Olga Minnie is intussen oorgeplaas na Oudtshoorn Hospitaal.
Haar dogter Charmaine Stander het aan Die Hoorn gesê dat haar ma wel reageer, maar dat dit tyd gaan neem omdat haar ma harsingskudding opgedoen het tydens die ongeluk.
Die familie bedank graag die Oudtshoorn gemeenskap vir al hulle ondersteuning, boodskappe en gebede.
Boodskappe met goeie wense vir beterskap stroom tans van oral in op sosiale media vir die egpaar.
Volgens sers. Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, ondersoek hul ’n klag van roekelose en nalatige bestuur. (Deur Angelique Erasmus)
Minnie-egpaar ernstig beseer in motorongeluk
Foto’s: Die Minie egpaar, Olga en John van Bushman’s Curios op Oudtshoorn. 2 Die Minnie’s se blou Toyota Rav 4
voertuig. 3: Die Maroen Volkswagen Jetta wat ook in die ongeluk betrokke was. Foto’s verskaf