Saamstaan opskudding kan verandering bring in raad

Links: Veronica Michaels van die party Saamstaan Suid-Afrika. Foto verskaf Regs: Mlandeli Nyuka tydens ’n vorige raadsvergadering waar hy gehuil het toe hy as kandidaat vir onderburgemeester benoem is. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het vandeesweek bevestig dat die Saamstaan-party se raadslid, Mlandeli Nyuka, nie meer ’n raadslid van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit is nie en vervang word deur Veronica Michaels.

Saamstaan was deel van die regerende DA-koalisie en dié wending kan moontlik verreikende gevolge hê vir die regerende koalisie.

Nyuka is reeds sedert September 2022 in aanhouding weens ’n saak van seksuele aanranding wat teen hom aanhangig gemaak is.

Intussen is daar baie vrae by inwoners oor die verskillende name van die Saamstaan-party.

Luidens ’n verklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit het die OVK die Munisipale Bestuurder, Walter Hendricks, op 3 Mei in kennis gestel dat die nuwe proporsionele raadslid wat Saamstaan ​​Suid-Afrika (ISASA) gaan verteenwoordig, Veronica Michaels is. Haar naam was eerste op Saamstaan Suid-Afrika se partylys.

“Sy is verkose verklaar soos voorgeskryf in Item 18 van Bylae 1 van die Wet op Munisipale Strukture, 1998 (Wet No. 117 van 1998),” lui die verklaring.

Volgens die OVK se kandidaatlys, wat op hul webtuiste verskyn, is Michaels egter sesde op die lys onder die partynaam Suid-Kaap Saamstaan.

Die verskillende name van Saamstaan laat inwoners van Oudtshoorn met heelwat vrae. Die party was al bekend as Oudtshoorn Saamstaan, toe Suid-Kaap Saamstaan en nou Saamstaan Suid-Afrika.

In die munisipale verklaring het burgemeester Chris Macpherson gesê hy is verlig dat die kwessie nou opgelos is en dat ’n raadslid aangestel is om in belang van die gemeenskap tot die raad by te dra.

Michaels se aanstelling is geldig vanaf 3 Mei en sy sal seremonieel, luidens die verklaring, by die volgende raadsvergadering ingehuldig word.

Die Hoorn het met beide Macpherson van die DA en Zoe Tyatya van die opponerende ANC-koalisie gesels oor wat Michaels se aanstelling vir die raad kan beteken. Tans het die DA sewe setels in die raad, ondersteun deur drie Vryheidsfront Plus-lede en twee Icosa-lede. Die agt ANC-raadslede word bygestaan deur een raadslid elk van die Patriotiese Alliansie (PA), Advieskantoor, Oudtshoorn Gemeenskaps-inisiatief (OGI) en Good. Dit blyk dus dat die beheer van die raad rus op Michaels se keuse van met watter party Saamstaan wil saamwerk.

Volgens Macpherson glo hy nie dat die verandering van Saamstaan se raadslid ’n impak op die regerende koalisie sal hê nie, en dat die veranderinge en planne wat reeds deur sy koalisie bewerkstellig is, nie geraak sal word nie.

“Oor die laaste ruk, met hierdie hele ding oor Saamstaan en met verskillende verteenwoordigers, was ons antwoord aan almal dieselfde: ons laat ons net lei deur die OVK. Ons is uiteindelik in kennis gestel dat mev Michaels aangestel is, wat volgens die OVK Saamstaan Suid-Afrika verteenwoordig.

Dienooreenkomstig werk ons nou daarvolgens, maar ons het nog geen formele samesprekings met haar gehad nie,” het Macpherson gesê.

Hy het bygevoeg dat samesprekings met Saamstaan, of enige ander party, onderdanig is aan ’n amptelike ondertekening van ’n koalisie-ooreenkoms, en dat hierdie ondertekening onderdanig aan die koalisie se werkswyse en beginsels sal moet wees. “Ons glo nie aan lukrake, los koalisies nie. Anders is daar nie inbinding of beginsels nie. Die koalisie moet kan saamstaan. In die verlede was daar gesprekke met mense in Saamstaan Suid-Afrika, en soos ek die integriteit van die president van hierdie party verstaan, glo ek sal daar gronde vir samewerking wees.”

Maar dit, het Macpherson gesê, sal natuurlik op grond van ’n formele samewerkingsooreenkoms plaasvind.

Volgens Tyatya verwelkom die ANC die stabiliteit wat Michaels se aanstelling tot die raad bring.

“Die inwoners van Oudtshoorn verdien hierdie stabiliteit – hulle verdien dat die volle 25 raadslede besluite vir Oudtshoorn neem. Die ANC is altyd bereid om met enige persoon saam te werk, en ons sien uit na wat die toekoms inhou, na wat moontlik kan gebeur.”

Tyatya het gesê dat die ANC graag saam met enige persoon wat deur Saamstaan aangestel is, sal werk.

“Wat ook al in die toekoms sal gebeur, weet niemand nie, so ons sal wag en sien wat gebeur. Ons is opgewonde om te sien wat gaan gebeur!”

Inwoners van Oudtshoorn het met die aankondiging van Michaels se aanstelling op Die Hoorn se Facebook-blad genoem dat Michaels reeds in 2022 uit die party geskors is en dat sy minimale stemme in die wyksverkiesing ontvang het.

Volgens Macpherson is dit ’n saak wat deur die party reggestel moet word, en is die munisipale raad nie verantwoordelik om hierdie kwessie te ondersoek nie, maar die party wel. “Maar indien daar wel rede is, sal ons daarna kyk indien sy deel van die koalisie uitmaak. Dan sal ons die party moet aanspreek waar nodig.”

Volgens die OVK se Wes-Kaapse kommunikasiebeampte, Chris Balie, het die Suid-Kaap Saamstaan-party die Plaaslike Regeringsverkiesings in 2021 onder leiding van Nyuka meegeding. “Dieselfde party het verlede jaar aansoek gedoen om naamsverandering na Saamstaan ​​Suid Afrika, wat behoorlik deur die Verkiesingskommissie oorweeg en goedgekeur is,” het hy gesê.

Balie het bygevoeg dat, ná die algemene verkiesing, daar interne leierskapgeskille binne die party was.

“Die OVK bereg nie interne geskille binne partye nie. Die interne geskille het tot twee hofsake gelei. In die mees onlangse hofsaak het die hooggeregshof bevind dat mnr Shapiro Michaels die geregistreerde leier van die party is, en het die Kommissie beveel om sy rekords dienooreenkomstig by te werk, wat die Kommissie gedoen het,” het Balie gesê.

Na kennisgewing deur die Munisipale Bestuurder van ’n PR (proporsionel raadslid)-vakature-setel van die Saamstaan ​​Suid-Afrika in die Oudtshoorn Munisipale Raad, volgens Balie, het die party toe ’n kandidatelys aan die OVK verskaf ingevolge waarvan Michaels toe verkies verklaar is om die vakante setel te vul, aangesien volgens die bepalings van die Wet op Munisipale Strukture.

Op ’n navraag van Die Hoorn het Veronica Michaels die volgende geantwoord:

Op ’n vraag oor die verandering van die party se naam het sy geantwoord dat Nyuka die naam van die party verander het tydens sy termyn as raadslid. Volgens Michaels het die hof die party se naam later tydens ’n hofsaak as Saamstaan Suid-Afrika erken en dit so deurgegee is aan die OVK.

Oor die vraag waarom sy nou as raadslid namens die party optree nadat sy 6de op die PR lys was, antwoord sy verder dat Nyuka self die lys verander.

“Daar was ’n ooreenkoms vanaf die begin dat ek sou ingaan as raadslid aangesien ek en Schapiro Michaels al die werwing gedoen,” vertel sy. Die verklaring lui verder dat indien die party twee setels sou kry, sy en Nyuka saam as raadslede op die raad sou dien.

Oor haar vooruitsigte as raadslid antwoord sy “Ons vooruitsigte is simpel en eenvoudig. Ons jaag geensins posisies of mag in die raadsaal nie. Ons wil baie graag werk om stabiliteit binne die raad te bewerkstellig sodat ons mense die vrugte kan pluk.”

“Ons wil verseker dat ons mense, die gemeenskap van die Groter Oudtshoorn die dienste ontvang waarvoor hulle betaal. Ons wil nie leë beloftes maak nie.” eindig sy af. (Deur Stefan Skapie Goosen)