Struisies en Gimmies pak mekaar op die sportveld

Buiten opwindende netbal- en hokkiewedstryde (foto’s verskaf) was daar die aksie-belaaide eerste rugbyspanwedstryd tussen Stuisies en Gimmies laas Saterdag. Gimmies het 41 - 33 geseëvier. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

DIE sportdag tussen die Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium het Saterdag (20 Mei) hordes leerders, ouers en toeskouers na die Strui-sies se tuisvelde op Oudtshoorn gelok, met die spanne se ondersteuners wat glad nie ver moes soek vir aksie nie te danke aan opwindende rugby-, netbal- en hokkiewedstryde.

Die hoofwedstryd tussen die skole se eerste rugbyspanne (o.19A) was soos oudergewoonte die mees afgewagte wedstryd van die dag en het verseker dat die pawiljoen stampvol ondersteuners gepak was.

Leerders van die skole, ouers van die spelers en ander oudleerders en rugbygeesdriftiges was meeste van die tyd op die randjie van hul sitplekke met die spannende wedstryd. Die spelers het seker gemaak dat daar geensins ’n vervelige oomblik was nie.

Al het Gimmies binne byna die eerste vyf minute van die wedstryd twee drieë gedruk, het Struisies nie tou opgegooi nie. Hule het deurentyd terugbaklei met skolerugby van uitstekende gehalte.

Die spanne het mekaar behoorlik aangevat, en met ongeveer 16 minute van die wedstryd oor, het Gimmies met 34 punte teenoor Struisies se 21 voorgeloop. Maar weer eens het Struisies terug- baklei.
Kort daarna was die telling 34 – 33 in Gimmies se guns.

Met slegs ’n paar minute van die wedstryd oor het Gimmies ’n laaste drie gedruk, en met die blaas van die eindfluitjie het hulle die wedstryd 41 – 33 gewen.

Beide spanne se ondersteuners het gesê dat altwee skole uitstekende, spannende rugby gespeel het.

Ander uitslae
Rugby: o.14 – Struisies (S) 22, Gimmies (G) 15; o.15 – S 7, G 19; o.16 – S 16, G 27; o.19B – S 5, G 22.
Meisieshokkie: o.14 – S 1, G 2; o.16B – S 0, G 0; o.16A – S 0, G 1; o.18B – S 0, G 1; o.18A – S 0, G 1.
Seunshokkie: o.14 – S 3, G 0; o.16 – S 1, G 0; eerstespan – S 0, G 1.
Netbal: 0.14B – S 10, G 28; o.15B – S 6, G 19; o.16B – S 10, G 17; o.18B – S 10, G 26.

  • Die netbal A-spanne het nie gespeel nie weens die Wes-Kaapproewe wat Saterdag in Moorreesburg gehou is. (Deur Stefan Skapie Goosen)