Moedersdag spogtee gehou by sopkombuis en nasorgsentrum

Phillip Seroux (agter regs) saam met bestuurslede en die sentrum se eie dansgroep onder leiding van Ernestine Jansen (in middel). Foto: Garnett Wicomb

DIE Lulu en Andre van Greunen Sopkombuis en Nasorgsentrum in Polisiehoogte, het Sondag die sopkombuis se derde verjaardag met ’n baie suksesvolle Moedersdagtee in die Gospel Revelation Kerk gevier.

Die sopkombuis is met die Covid-pandemie in 2020 in dieselfde kerk deur Phillip en Susanna Seroux begin en groei steeds.

Die dag is volgens Seroux baie goed ondersteun deur die sentrum se seniorburgerklub en kan volgens hom toegeskryf word aan die goeie same-werking van die gemeenskap.

Die tema vir die dag was na aanleiding van Spreuke 30:29 wat lui “Baie vroue het hul knap gedra maar jy oortref hulle.”

Volgens Seroux, bestaan die bejaardeklub tans uit sestig senior burgers van die omgewing wat elke dag ’n bord warm gekookte kos by die sentrum kry.

Dan is daar ook sowat 35 kinders wat elke middag onder toesig hul tuiswerk by die sentrum kom doen.
Die sentrum beskik ook oor ’n paar rekenaars wat ’n vriend geskenk het, en wat die kinders vir take kan gebruik.

“Ons doelwit is om binnekort ’n volwaardige rekenaarsentrum te open wat ook deur die gemeenskap gebruik sal kan word.”

Seroux het sy dank uitgespreek teenoor ’n plaaslike supermark wat elke Saterdag 300 liter sop en 50 brode aan die sentrum skenk en ook aan ander sopkombuise in Bridgton.

“Danksy die hulp van donateurs is ons ook in staat en bevoorreg om elke Dinsdag en Donderdag by die SASSA-kantore ’n koppie sop en broodjie uit te deel aan mense wat van soggens vroeg sit en wag om gehelp te word.”

“Ons reik ook Saterdagaande uit na die plaaslike hospitaal se ongevalle-afdeling waar veral plaasmense en beseerdes soms lang ure moet wag om gehelp te word.”

Volgens Seroux verskaf die kantoor ook werk aan ’n dame in die kantoor, Ernestine Jansen, ’n terrein- en motorbestuurder, Derick Rhode, ’n kok, Elsie Botes en ’n sentrumvoorsitter, John Parish Maxwell.

Hy het sy dank uitgespreek teenoor almal wat die sopkombuis al vir drie jaar sukesvol ondersteun. (Deur Garnett Wicomb)