Skougronde word weggedra en geplunder

1. Oudtshoorn se skougronde. 2. Die sleepwa is in een perdekamp ingesleep en gestroop. 3. Een van talle staldeure wat gereeld oopgebreek word. 4. Verskeie krane en pype is by krippe afgebreek. 5. Gesteelde items is Saterdag teruggevind nadat ’n verdagte dit probeer verkoop het. Foto’s: Angelique Erasmus en verskaf

OUDTSHOORN se skougronde was in die verlede een van Oudtshoorn se grootste bates, en het talle skoue gehad waaroor daar tot vandag toe nog gepraat word.

Deesdae is dit ’n skatkis vir die wat afbreek, steel en items verkoop vir skroot, en word die skougronde stuk-stuk weggedra en verkoop.

Die Klein Karoo Equestrian Centre huur al vir ’n hele aantal jaar die perseel waar lede hul perde aanhou en gebruik maak van die fasiliteite om perde te oefen, en ook te huisves.

Daar is op die oomblik ongeveer 14 perde, wat meesal net aan vrouelede behoort en daagliks die perseel besoek om hul perde te versorg en ook om met hulle te gaan ry.

Die probleem is egter dat dit nie meer veilig is om alleen daar te wees nie, en ook dat geen eiendom veilig daar bewaar kan word nie, al is dit agter slot en grendel.

Verlede naweek is ’n persoon gevang, wat daar naby bly, met gesteelde goedere in sy besit. Van die items was ’n kruiwa, skaaphekkie en blou handdoek. Hy is deur die polisie gearresteer, en ’n saak van diefstal is teen hom gemaak. Hy is egter later vrygelaat, en het nie Maandag vir sy eerste hofverskyning opgedaag nie. Intussen is daar ’n lasbrief vir sy arrestasie uitgereik.

Hierdie is maar net een van die vele persone wat gereeld daar steel, en deesdae slaap daar sommer mense ook op die perseel.

Een van die lede het verlede week al die oop, ongebruikte stalle met spy-kers gaan toekap. “Toe ons daar aankom die volgende oggend, het hulle al wat ’n stal is oopgebreek wat nie toegespyker was nie, en oral gekrap,” vertel sy. Sy wil graag anoniem bly omdat sy vir haar veiligheid vrees dat die booswigte haar dalk ken en haar of haar perd leed sal aandoen.

Verskeie lede met wie Die Hoorn gepraat het voel dieselfde.

“Wat staan ons te doen, ons is net ’n klomp vrouens en ons kom soms met ons kinders hiernatoe. Dit is veronderstel om lekker hier te wees en dat ons, ons sport veilig kan beoefen, maar ons moet kort-kort oor ons skouers loer,” vertel nog een.

Hul is ook bang om self teen die mans op te tree, uit vrees dat die perde leed aangedoen kan word, en daar nie alternatiewe plekke is om perde in die dorp te huisves of grond wat gehuur kan word vir die doel nie.

Nog ’n lid vertel dat daar die jaar ’n sleepwaentjie in haar perd se stal in geboender is. “Hoe hulle hom daar gekry het is ’n misterie.” Al die drade, wiele en liggies is afgesteel. As die sleepwa nie so swaar was nie was hulle moontlik met hom ook vort.

Van die items wat oor die jare al gesteel is sluit in, kruiwaens, tuinslange, grawe, harke, perde komberse, skuifslotte, elektriese drade, pale, gedeeltes heining, krane, grassnyer, drade van perde sleepwaens, vullisdromme, ligte en emmers. Sommige lede het al daar opgedaag en oorblyfsels gekry in stalle waar daar vuur gemaak is.

Tot dusver het nie net lede groot skade gehad nie, maar die klub self. Lindi Brill, tesourier van die klub vertel dat hulle 3 jaar gelede al die badkamers oorgedoen het en nuwe slotte aan die stalle opgesit het. “Al die badkamers is verwoes, die toilette en wasbakke is stukkend gekap, diefwering afgebreek, en alles weggedra wat hulle kon kry.”

Die hele eiendom se draadheining is oorgedoen en na drie weke is die eerste gat in die heining geknip.

Die klubhuis wat beveilig is met ’n groot hek en devils fork, is ook na ’n kort ruk verwoes, al die voete van die stoele is afgesteel, eetgerei wat gesluit was is ook gesteel nadat die hek oopgebreek is. Die badkamers binne die klubhuis is ook heeltemal verwoes en onbruikbaar.

Alle elektriese drade en ligte is al van die perseel af gesteel, en selfs stukke van die heining is al weggedra. Daar is letterlik net ’n paar hekkies oor en die word ook deesdae gesteel en verkoop vir skroot.

“Ons het al duisende rande spandeer en alles is verwoes of gesteel, en selfs ons lede se persoonlike eiendom is ook al ge-steel,” sluit sy af.

Die Hoorn het ook aan besighede in Oudtshoorn wat tweedehandse items aankoop navrae gestuur en slegs antwoorde vanaf Boshoff Boumateriaal en Karoo Scrap ontvang. Hier volg hul antwoorde op vrae:
Quintin Boshoff sê dat enige persone wat tweedehandse ware by hulle verkoop, moet identifikasiedokumente, ’n bewys van adres en telefoonnommer verskaf voor hulle items by hul koop.

“Dit is egter moeilik om iemand as ’n dief te klassifiseer sonder die polisie se teenwoordigheid. As ’n persoon sy eiendom uitken op ons perseel moet hy die polisie in kennis stel. Die polisie lê dan beslag op die item en die verkoper word in hegtenis geneem,” sê Boshoff.

Hy vertel verder dat die Polisie tans besig is met regulasies waar tweedehandse handelaars nie meer kontantaankope mag doen nie maar geld in ’n bankrekening moet inbetaal.

Die probleem is nie net by winkels wat tweedehandse items koop nie, maar ongelukkig koop die algemene publiek ook goedere op straat en dat menigte veroordeelde diewe en inbre-kers in die gemeenskap terug gelaat word, en die probleem dan nie ophou nie.

Op 30 Julie is daar by hul perseel ingebreek en koper, krane en toebehore van duisende rande by hul gesteel. “Ons het ’n fraksie daarvan terug gevind maar alles was platgekap. Die Polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem.”

Kosie Snyman van Karoo Scrap beaam die probleem soos hierbo genoem. Hy vertel verder dat hul besigheid werkskepping bevorder, maar ook gereeld deurloop deur inbrake waar diewe hul besigheid besteel, plunder en saboteer.

“Ons is ’n geregistreerde skrootwerf en word weekliks deur die polisie besoek om te verseker dat ons volgens die riglyne van die wet handel,” sê Snyman.

“Ons hoofdoel is om produkte wat nie meer bruikbaar is nie aan te koop en te herwin. Daar is wel ongelisensieerde persone wat skroot , bruikbare en onbruikbare items of enige iets van waarde aankoop en nie riglyne volg soos wat die wet vereis nie, waarvan die polisie wel kennis dra. Dit gee aan die gelisensieerde skrootwerwe ’n slegte naam.” sluit hy af. (Deur Angelique Erasmus)