Skenk gordyne vir Eljada se inwoners

Die hoofgebou van Eljada Nasorgsentrum. Foto: Angelique Erasmus

Die werk wat Eljada Nasorgsentrum reeds vir jare doen om na persone met intellektuele gestremdhede om te sien, is bekend in Oudtshoorn. Die nasorgsentrum versorg tans 98 volwassenes 24 uur per dag.

Hulle het ook ’n mediese sorgafdeling met 23 persone wat mediese versorging benodig.

Die inwoners neem aan daaglikse programme deel waar onder andere handwerk gedoen word en produkte vervaardig word.

Die sentrumbestuurder, Gerda Swart, verduidelik dat Eljada gereeld projekte loods om fondse in te samel sodat die beste versorging moontlik aan die inwoners voorsien kan word. “Ons het egter nie altyd genoegsame fondse vir byvoorbeeld die vervanging van gordyne nie. Ons het tans ’n dringende behoefte aan nuwe gordyne vir inwoners se kamers sowel as ons eetsaal en konferensielokaal.”

Swart sê dat ’n groot getal van die inwoners nie familielede het wat hulle kan ondersteun nie en iets kleins soos nuwe gordyne of nuwe beddegoed kan ʼn groot verskil in die persoon se lewe maak.

Sy doen ’n beroep op die gemeenskap van Oudtshoorn om op enige wyse by te dra om hierdie behoefte te vul.

Skakel Eljada Nasorgsentrum by die volgende nommer: 044 279 1740 of kontak hulle per e-pos by finansies.eljada@etime.co.za vir meer inligting en om hulp aan te bied.

Besoek gerus hulle webwerf: www.eljada.co.za sowel as hulle Facebookblad Eljada Nasorg om meer uit te vind oor die diens wat hulle aan die gemeenskap lewer. (HANNES VISSER)