Die Calitzdorp Expressed-fees wat die afgelope naweek plaasgevind het, het vyf jaar gelede as Calitzdorp Uncorked gestalte gekry. Die naam is vir die volgende jaar se fees verander.
Die oorspronklike voorloper van die fees was die Calitzdorp Portfees, maar dit het ten einde geloop toe die hoofborgskap geëindig het. Die gemeenskap het toe ingespring en die fees het die afgelope vyf jaar as ʼn gemeenskapsfees ontwikkel.
Vanjaar se program was uiteenlopend met 29 ondernemings en venues wat deelgeneem het. Volgens Gill Foster van die feeskomitee, wissel die aantal aanbiedinge elke jaar na gelang van die beskikbaarheid van venues.
“Die gedagte agter die fees is dat uitdrukking gegee word aan bykans alles wat in Calitzdorp beskikbaar is en op hierdie manier word besoekers aangemoedig om soveel plekke as moontlik te besoek.” sê sy.
Die besoekpunte word volgens twee roetes beplan waar besoekers wat “paspoorte” koop van plaasvervoer gebruik maak om by die verskillende venues uit te kom.
Dit beteken dat daar nie ʼn sentrale of sogenaamde feesterrein is nie en dat die hele dorp derhalwe die feesterrein is. Foster sê dat die fees vanjaar ook verder as die sentrale dorp uitgebrei is om Bergsig en Groenfonteinvallei in te sluit.
Meer as 450 “paspoorte” is aanlyn verkoop en talle dagbesoekers het die dorp en die verskillende venues ook tydens die fees besoek.
Die tema van vanjaar se Calitzdorp Expressed was “New York, London, Calitzdorp, Paris” en besoekers is aangemoedig om volgens die tema aan te trek.
Foster sê dat die fees deur vrywilligers gereël en beman word en dat verskeie organisasies soos die Gemeenskapskas asook skole betrek word.
As deel van ʼn projek. Keep our community warm this winter, wat in samewerking met die Gemeenskaps-kas aangebied is, is besoekers gevra om komberse vir behoeftiges te skenk.
Besoekers kan uitsien na volgende jaar se Calitzdorp Expressed waarvan die beplanning binnekort begin.
Calitzdorp Expressed, ’n naweekvol vermaak
Sommige besoekers by die Calitzdorp Expressed-fees het selfs oulike hemde laat maak met slagspreuke op soos “Corks are for quitters”, laat maak. Foto: Facebook