
Oudtshoorn Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD Association for Persons with Disabilities) lewer ʼn broodnodige diens t.o.v. bewusmaking, opleiding en bemagtiging van persone met gestremdhede en hulle versorgers en familielede.
Die APD het ʼn aantal jare gelede ʼn perseel tussen GG-Kamp en die volstruis-abbatoir bekom waar geboue opgerig is wat daagliks gebruik word.
Die organisasie bestaan uit maatskaplike dienste, Sonskyn spesiale dagsorgsentrum vir ongeveer 30 kinders met spesiale behoeftes sowel as beskermde werkswinkels waar projekte vir ongeveer 60 volwassenes (kliënte) met gestremdhede aangebied word.
Die APD se bekendste projek is die vervaardiging van O-so-Eggy produkte waar kliënte volstruiseierdoppe gebruik om oorbelle te maak en plekmatjies, verwelkomingsborde, sleutelhouers en yskasmagnete met stukkies eierdop mosaiek.
Die afgelope aantal maande loop die perseel onder erge vandalisme deur. Vandalisme het so toegeneem dat die APD sedert April die dienste van ʼn sekerheidsmaatskappy moet gebruik om die perseel 24 uur op te pas.
Dit het die organisasie tot nou meer as R44 000 uit die sak gejaag. Selfs die palisade-heining wat om die perseel opgerig is, is deur vandale beskadig en moet dringend herstel word.
Dele van die gebou is ook gevandaliseer. Die beveiliging en herstel van die infrastruktuur is heelwat duurder as wat die nie-winsgewende organisasie uit hulle staatsibsudie kan bekostig en hulle word genoodsaak om self fondse te genereer.
Hulle beplan drie projekte en vra inwoners en ondernemings om hierdie inisiatiewe te onder-steun. Die eerste projek is ’n dans in die banketsaal op 13 September dan ʼn gholfdag op 27 September en ʼn debutantebal op 15 November.
Besonderhede oor die drie projekte sal tydig bekendgemaak word.
Persone wat meer inligting oor die APD se dienste wil bekom of die organisasie wil ondersteun kan Rashieda Booysen telefonies kontak by 044-272 2106 en 076 109 9212 of per e-pos by admin@apdoudtshoorn.co.za.