Sinterklaas in Bridgton

Ná ’n afwesigheid van twee jaar weens die pandemie kon die Sint Luigi Scrosoppi Sorgsentrum in Bridgton weer vir Sinterklaas verwelkom. Sinterklaas, oftewel Sint Niklaas (waarvan die moderne Kersvader afstam), was ’n biskop wat in die vierde eeu in Klein-Asië geleef het en bekend daarvoor was dat hy op anomieme wyse armlastige mense bygestaan het deur geskenke op hul vensterbanke te los of deur skoorstene laat sak het. Sy feesdag word wêreldwyd op 6 Desember gevier. Sedert die begin van die St Luigi Sorgsentrum in 2006 word daar jaarliks op sy feesdag ’n groot Kerspartytjie vir die kinders gehou. Die hoogtepunt is altyd die aankoms van Sinterklaas en vanjaar het hy (hulle Duitse vrywilliger) heel modern op ’n Harley Davidson-motorfiets aangery gekom. Meer as 700 kinders het hulself terdeë geniet. Foto verskaf