DIE saak teen ’n 42-jarige vrou van Bridgton, Oudtshoorn wat van poging tot moord aangekla word, is vir pleit en verhoor in die Oudtshoorn Streekhof tot 28 Februarie 2023 uitgestel.
Maureen Baartman het na bewering op 18 Junie vanjaar vir Henlon Solomons (32) buite haar Wendyhuis in Steenboklaan, Bridgton, met ’n stukkende bottel in die bors gesteek terwyl sy op borg was op ’n klagte dat sy Solomons drie maande tevore met ’n mes in die nek gesteek het.
Baartman is sedert die voorval in aanhouding nadat haar borgaansoek onsuksesvol was.
Die ondersoekbeampte, ao Wilfred Appollis, het juis borgtog vir Baartman teengestaan omdat sy ten tyde van die voorval op borg van R1 000 was vir die vorige voorval met Solomons.
Landdros Vaughn Shone het in sy uitspraak gesê dat Baartman nie die hof oortuig het dat dit in belang van geregtigheid is dat borgtog aan haar toegestaan moet word nie.
“Om iemand met ’n stukkende bottel te steek is gevaarlik en kan tot die persoon se dood lei en die gevaar bestaan dat die beskuldigde die klaer weer sal aanrand en dit dié keer meer ernstig kan wees.
“Dit is die hof se taak om die klaer te beskerm en vrees bestaan dat die beskuldigde nie by borgvoorwaardes sal hou nie,” het die landdros gesê.
Die saak is Maandag vir pleit en verhoor uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)