Skema se watertoevoer weens dié redes swak

Die pompe wat water in die reservoir pomp naby Dysselsdorp. Foto’s: verskaf

Werkers besig met die Blossomspyplyn.

BEURTKRAG en vermorsing is die twee hoofredes hoekom inwoners wat afhanklik is van die Klein Karoo landelike waterskema vir hul water, die afgelope tyd probleme ondervind met hul watertoe-voer. Gebiede soos Dysselsdorp, Waaikraal, Kammanassie, Kleynspoort, Rooiheuwel en die proefplaas buite Oudts hoorn word hierdeur geraak.

Die Hoorn het by monde van die burgemeester se kommunikasiebeampte, Hannes Visser die inligting ontvang ná ’n medianavraag. Johan Uys, bestuurder van die skema, het aan Visser verduidelik hoekom die inwoners soms min of geen water het nie. Hy’t ook uitgebrei oor die uitdagings wat sy departement het om die waterkrisis op te los.

Volgens Uys moet pompe 22 uur ononderbroke pomp om die reservoir vol te maak. “Met die beurtkrag kan die pompe nie lank genoeg pomp om aan die behoefte te voorsien nie,” sê hy.

Hul versoeke aan die gemeenskap om waterverbruik tot die minimum te beperk val ook soms op dowe ore. Tydens ’n amptelike besoek aan die gebiede waar daar waternood voorkom, is groot watervermorsing opgemerk.

Groentetuine by huise word met hartelus besproei en motors word met ’n tuinslang gewas.

As ’n tydelike maatreël word van die gebiede tans van Oudtshoorn van water voorsien, maar dit veroorsaak lae waterdruk. “Dis eerder ’n kwessie van lae druk as een van geen water nie, omdat die reservoir sowat 120 meter laer lê as die een in Dysselsdorp,” verduidelik Uys. Sodra die waternood verby is, sal water weer vanaf Dysselsdorp verskaf word en die druk verbeter.

Inwoners het al gevra dat sonkrag en kragopwekkers aangeskaf word om water te pomp, maar vanweë die hoë kostes en veiligheidskwessies sal dit volgens Uys nie haalbaar wees nie.

“Die agt boorgate is wyd versprei rondom Dysselsdorp en kragopwekkers en sonpanele sal gestroop word.”

Dit sal ook nie prakties moontlik wees om vir ure op veldpaadjies te ry en diesel by elke boorgat se kragopwekker in te gooi nie.

Dit sal ook voor en ná beurtkrag aan- en afgeskakel moet word.

Daar is wel lig aan die einde van die tonnel, met die Blossomspyplyn wat Maart 2023 in werking sal tree. Die nuwe pyplyn sal beslis verligting in die Rooiheuwel-gebied bring.

Daar is egter groot kommer oor onwettige wateronttrekkings in die gebied en die Klein Karoo landelike waterskema is tans besig om dit te ondersoek.

“Ons doen ’n beroep op inwoners om oortreders dadelik aan te meld wat onwettig water onttrek en onwettige aansluitings het. Oortreders kan geweldige hoë boetes opgelê word en ook krimineel vervolg word,” sluit Uys af.

In ’n onlangse saak in Kwazulu-Natal is ’n boer met R1,7 miljoen beboet vir onwettige wateronttrekking. (Deur Angelique Erasmus)