Sidney Berry getuig self

Marilize Nortier. Foto: Hoorn Argief Onder: Die BMW-motor wat deur Sidney Berry bestuur is en waarin Marilize Nortier gesterf het. Foto: Hoorn argief

DIE verhoor van Sidney Ber­ry (25) van Groot-Brak­­rivier, die bestuurder van die wit BMW waarin ’n 18-jarige matriekleer­der Marilize Nortier die nag van 22 September 2019 buite Oudtshoorn gesterf het, is ver­lede week hervat.

Berry het getuig dat hy nie geweet het dat daar iemand saam met hom in sy motor was nie.

Volgens hom het hy dit eers later die Sondagoggend by ’n polisiebeampte gehoor.

Die saak is met Berry se getuienis voortgesit nadat ’n Artikel 174-ontslagaansoek van die verdediging in November 2022 deur die hof van die hand ge­wys is.

Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, het toe aangevoer dat hoewel hy die bestuurder van die motor was en Nortier ná die ongeluk in ’n sloot water verdrink het, die staat nie genoegsame getui­enis voor die hof gebring het om hom (Berry) skuldig te bevind nie.

Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het die aansoek teengestaan omdat sy van mening is dat die staat ’n sterk prima facie-saak teen die beskuldigde het wat tot sy moontlike skuldigbevinding op ’n klag van strafbare manslag kan lei.

“Die beskuldigde is die enigste lewende persoon wat die hof kan meedeel wat onmiddellik voor die ongeluk gebeur het. Die staat is van mening dat dit niks anders as nalatigheid was wat tot die ongeluk gelei het nie,” het Jordaan gesê.

Berry het Woensdag getuig dat Moné Rowe, ’n vriendin van die oorledene vir wie hy die betrokke dag ’n geleentheid na Oudtshoorn gegee het, ’n fout begaan het deur te sê dat hy onverskillig be­stuur en sy onveilig gevoel het.

Sy is ook die aand na die Braai-kraal waar haar vriend, André Burger, as kroegman gewerk het.
Berry het ontken dat Burger vir hom ’n Jagermeister-shooter gegee het om dankie te sê vir die geleent-heid wat hy Rowe gegee het.

Volgens Berry is hy, sy vriend Stephen Knoop en die twee Lilly-broers die Saterdagaand saam na Braaikraal waar hy die mees­te van die tyd in die geselskap van die oorle­de­ne was.

Hy het ontken dat hy op ’n keer ’n tray shooters ge­koop het omdat hy volgens hom dit nie sou kon bekostig nie.

Hy het erken dat hy die oorledene op haar selfoon hoor praat het toe sy vir haar pa gesê het dat sy die aand by ’n vriendin op ’n plaas in die distrik sou oor­slaap.

Hy het nie geweet wat die plaas se naam is en ook nie die vrien­din se naam gehoor nie.

Volgens hom het hy nie onderweg na Knoop se huis vinnig gery of roeke­loos bestuur nie.

Nortier is saam met hulle weg by Braaikraal en hy kan onthou dat, nadat hy vir Knoop en die twee Lilly-broers afgelaai het, hy op die Kango Grotte-pad gery het. Hy sê egter hy weet nie “wat of waarom” nie. Hy het ook getuig dat hy nie kan onthou hoe die ongeluk plaasgevind het nie.

Hy was bewusteloos ná die ongeluk. Volgens hom het hy nadat hy sy bewussyn herwin het, “dubbelvisie” gehad. Hy het uit die motor geklim, na ’n huis oorkant die pad gestap maar nie antwoord gekry nie.

’n Motoris, Leon Botha het by hom stilgehou en hom na sy huis geneem waar hy gaan stort het. Hy is daarna teruggeneem na die ongelukstoneel.

Dit is toe dat hy by ’n polisiebeampte, sers Hei­ne Jullies, verneem het dat daar iemand in die motor was.

Sy moeder het hom met toestemming van Jullies na ’n dokter op Oudtshoorn geneem en hy is vir be­serings aan sy gesig, kop, arm, skouer en heup na die George Mediclinic geneem.

Bans het vir Berry gevra wat tot dusver die ergste was van sy verhoor. Hy het geantwoord dat dit beslis die beskuldigings op sosiale media was dat hy van die ongelukstoneel “weggehardloop” het.

Die saak is Woensdag as gevolg van hoftyd wat verstreke was, vir verdere getuienis van Berry oor die klagte van versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen, na 22 en 23 Maart uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)