Dapper Lulu sterf na terugslag

Lucinda (Lulu) Spies, wat verlede Woens­dag in die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad oorlede is.

“WAAR begin ’n mens,” sê Heidi Spies, ma van Lucinda (Lulu) Spies (20) wat verlede week oorlede is.

Lulu is Woensdag (8 Februarie) in Kaapstad oorlede, nadat sy sowat ses maande gelede, op 28 Julie 2022, in ’n ernstige motorongeluk in Bloemfontein beseer is.

Sy is vroeg in Oktober 2022 ontslaan en het by haar ma se huis op ’n plaas sowat 50 km van Oudtshoorn af in die De Bad-omgewing aangesterk.

Einde Januarie vanjaar (27 Jan) het Lulu egter ’n terugslag beleef en is sy per helikopter na die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad geneem.

Sy was steeds in dié hospitaal toe sy verlede week oorlede is.

“Sy was so ’n borrelende kind en het ’n vertrek dadelik opgehelder as sy daar ingestap het,” vertel Heidi.

Volgens haar het Lulu altyd geglimlag, en was sy ongelooflik behulpsaam en lief vir mense.
“Sy was ’n ‘special kind of special’,” het Spies gesê.

Lulu sou op 4 Maart vanjaar haar 21ste verjaarsdag gevier het.

Sy was die jongste van drie kinders, en het twee ouer broers, Franco (27) en Hanno (26).
Benewens haar broers, laat sy ook haar pa, Schalk, agter, en ook ’n hegte familie met oumas, oupas, ooms en tannies.

“Hulle babasussie was vir hulle ’n ‘chick magnet’ gewees,” vertel Heidi skertsend. “Ons almal mis haar ongelooflik baie.”

Heidi sê die familie wil graag almal bedank wat vir Lulu en hulle gebid het, boodskappe gestuur het en nie net die familie nie maar hul vriende ondersteun het in hierdie moeilike tyd.

Volgens haar het selfs mense van oorsee vir Lulu en hulle gebid.

Lulu was ’n oud-leerder en leer- lingraadslid van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn.

’n Roudiens vir haar word vandag (Donderdag) om 12:00 by die NG Moe­dergemeente op Oudtshoorn gehou. (Deur Angelique Erasmus)