DIE opelug-musiekkonserte keer vanjaar terug na die KKNK met ’n verskeidenheid van Suid-Afrika se topkunstenaars en ’n fees van musiek wat strek van rock tot pop, tot klassieke musiek tot rymklets tot jazz en alles tussenin,
Dié ses opelugkonserte wil die post-pandemievryheid behoorlik vier, lui ’n perverklaring van die KKNK vandeesweek.
Die opelugkonserte skop Saterdag 1 April en Sondag 2 April af met ’n tweedag-musiekfees genaamd Amok, en word Paassondag (9 April) afgesluit met ’n spesiale konsert geskep deur Nataniël.
Hierna kan feesgangers uitsien:
Saterdag 1 April: Op die verhoog in Amok! 1.0 is onder meer Prime Circle, Refentse, Sunset Sweatshop, Die Heuwels Fantasties, Jo Black, Francois van Coke en vele meer.
Sondag 2 April: Amok! 2.0 sit topvermaak voort met onder meer Early B, YoungstaCPT, Loufi, Frazer Barry, Tribal Echo, Anton Goosen, Valiant Swart, Sima Mashazi, Hakkiesdraad ens.
Donderdag 6 April: By dié konsert is dit Spoegwolf en vriende se beurt om feesgangers op die Karoo-opelugverhoog te vermaak. Hulle eerste shows ooit was in 2012 by die KKNK. Hulle bring al hul energie, ligte en harde musiek na die verhoog, met hulle grootste en malste show in ’n lang tyd. Koos Kombuis en Deon Meiring sluit onder andere by hulle aan.
Vrydag 7 April: Die grootste Karoo-paartie ooit beloof ’n groot jol met onder andere Kurt Darren, Jo Black, Granville Michaels, Tracey-Lee Oliver en Jaconell Mouton. Dis groot internasionale treffers, gunstelinge uit eie bodem en ’n Karoo-paartie wat gaan sorg vir ’n onvergeetlike aand!
Saterdag 8 April: Karoo Pops is ’n jarelange tradisie op die KKNK se opelug-verhoog en vanjaar sorg die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, Karen Zoid, Francois van Coke, Lynelle Kenned en Luvo Maranti vir ’n program van klassieke musiek, rock en ander genres, met musiek uit blyspele en Zoid en Van Coke se treffer “Toe vind ek jou” vir die eerste keer saam met ’n simfonieorkes!
Sondag 9 April: Die opelug-musiekprogram sluit op Paassondag af met Passi | Passio | Pasión | Passion, ’n epiese konsert deur Nataniël, geïnspireer deur sy liefde vir seremonie en rituele, die tydlose melodieë van Bach tot blues, die ritmes van katedrale tot wêreldmusiek en die simboliek van geloof in kleredrag. Sewe van Suid-Afrika se voorste musikante, Charl du Plessis, Juan Oosthuizen, Werner Spies, Peter Auret, Dihan Slabbert, Nicolaas Swart en Wiehahn Francke, sluit by hom aan vir ’n onmisbare aand.
Feesgangers kan by dié ses opelugkonserte uitsien na ’n piekniekatmosfeer en die skoonheid van sononder en ’n sterrehemel in die Klein Karoo. Konsertgangers is welkom om hul eie stoele te bring.
Die ses konserte se kaartjies sluit toegang in tot die Feesmark vir die hele dag, waar stalletjies, die eerste KKNK Feeswinkel, ’n pretpark, Liplekker se deli- en wynstalletjies en verskillende kroeë en kosstalletjies besoek kan word.
• Kaartjiepryse vir die opelug-musiekkonserte wissel van R250 tot R350 per persoon, met ’n spesiale naweekkaartjie vir die twee Amok!-konserte teen R550.
Kaartjies wat vooraf gekoop word, is goedkoper as by die hekke.
Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets of jou naaste Pick n Pay.
• Die volledige feesprogram vir die KKNK is beskikbaar by kknk.co.za.
Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word by lekkeslaap.co.za
(Vir meer inligting, kontak die KKNK per e-pos by info@kknk.co.za, telefonies by 044 203 8600 of per WhatsApp by 065 285 2337). (Deur Liesel le Roux)
6 opelug-konserte bring topkunstenaars na KKNK!
Van die kunstenaars wat vanjaar in ses buitelugkonserte by die KKNK te sien is - Spoegwolf, Nataniël, Early B, Refentse, Prime Circle en Karen Zoid. Foto’s verskaf