Geliefde rugbyspeler vermoor

Die dood van Boutros May (bo) nadat hy Sondag in die vroeë oggendure in die omgewing van ’n nagklub in Oudtshoorn se middedorp met ’n skerp voorwerp gesteek is, het skokgolwe deur die gemeenskap van die dorp gestuur. Onder: Bevedine May probeer die bloed van haar seun van die teer verwyder. Foto’s: Garnett Wicomb Heelonder: Bevedine May, moeder van Boutros May Maandag voor die Oudtshoorn Landdroshof.

’N GELIEFDE lid van die Bridgton Rugbyklub is Sondagoggend (12 Februarie) dood nadat hy naby ’n bekende nagklub in die middedorp met ’n skerp voorwerp gesteek is. Sedertdien het medelye vir die oorlede Boutros May (29), beter bekend as “Boelie”, van regoor die Klein Karoo ingestroom.

Die 24-jarige Felicia Afrika is volgens ao Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, slegs ure na May se dood – net na 06:00 – deur die Oudts­hoorn Polisie in hegtenis geneem. Sy sê die insident het na bewering omstreeks 02:10 buite ’n nagklub in St Johnstraat plaasgevind.

May sou in Desember vanjaar in die huwelik getree het.

Afrika het Maandagoggend in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn en aangedui dat sy haar eie prokureur wil aanstel. Die saak is deur landdros Vaughn Shone vir dié doel en vir haar borgprofiel tot Vrydag uitgestel.

Die hofsaal was stampvol familie en vriende van die oorledene sowel as die beskuldigde.
Hartseertonele het ná die hofverrigtinge in Ad­derleystraat afgespeel waar May se bedroefde moeder, Bevedine, blomme op die bloed van haar seun op die stoep van ’n afgebrande gebou, voorheen die antieke winkel Pasella, gesit het. Sy het die bloed daarna huilend met ’n besem afgewas en ook bloedspatsels in die pad weggewas.

’n Inwoner wat gevra het om anoniem te bly, het aan Die Hoorn vertel dat hy Sondagoggend op pad werk toe May se bebloede hemp opgetel het waar dit in die straat waar hy gesteek is, agtergelaat is. Hy het Maandag die hemp aan sy treurende moeder teruggegee toe sy haar seun se bloed op die straatoppervlak probeer skoonmaak het.

Petisie opgestel teen borgtog
Leon Campher, plaaslike raadslid, sê dat ’n petisie tans opgestel word wat sal versoek dat geen borg aan die beskuldigde toegestaan word nie.

“Ons gaan Vrydagoggend ’n memorandum aan die landros oorhandig. Die misdaad was gepleeg terwyl Boelie saam met vriende uit was. Die misdaad was gepleeg in die dorpsgebied van Oudts­hoorn waar jy veilig moet wees. Enige moord is ’n moord te veel. Daarom vra ons dat verdagtes soos dié uit ons gemeenskappe gehou word. Vir haar eie sowel as ons veiligheid.”

Sosiale media maak seer, sê pa van beskuldigde
• Die pa van Afrika, Ferdinand Ewert, het dié week sy teleurstelling uitgespreek oor plasings en aannames op sosiale media oor sy dogter wat wrywing tussen volwassenes uitlok.

Hy sê dit maak hom as ’n ouer seer om op so­siale media te lees wat mense, sonder enige kennis van wat die betrokke oggend gebeur het, oor sy dogter skryf. Hy sê ’n saak het twee kante en hoop en vertrou dat sy dogter ’n regverdige verhoor sal kry omdat ’n persoon onskuldig is totdat hy of sy deur die hof skuldig bevind word.

Volgens hom het hy soos almal simpatie met die ouer wat ’n kind verloor het.

“Ek is teen kriminaliteit en praat nie misdaad goed nie, maar as ouer wil ek my bitterheid uitspreek oor wat ek op sosiale media lees en mense vra om hul woorde te tel voordat hulle iets skryf oor iemand wat hulle nie ken nie of die omstandighede nie van weet nie.

“Ons weet nie wat ons kinders buite die huis doen nie en moet die aangeleentheid soos grootmense hanteer, want watter mens met nugtere den­ke sal sommer net ’n mes vat en iemand daarmee steek,” vra Ewerts.

Volgens hom weet hy waarvan hy praat omdat hy self 20 jaar gelede deur so iets is en daarna ’n beter mens geword het. “Ek is vandag ’n gemeenskapswerker wat elke dag in die gemeenskap werk, en ’n prediker wat onder andere ook by die Oudts­hoorn Korrektiewe Dienste preek. Ek wil as ’n vader ’n boodskap uitstuur.”

Ondersteuners van die Bridgton Rugbyklub en vriende van Boutros May Sondag in die straat voor sy ouerhuis. Foto: Garnett Wicomb
• ’n Groot groep ondersteuners van die Oudts­hoorn Rugbyklub en vriende van May het Son­dagmiddag saam met die klubbestuur sy ouerhuis besoek om medelye met sy gebroke ma en sy familie te betuig.

’N GROOT groep ondersteuners van die Bridgton Rugbyklub en vriende van Boutros May (29), rugbyspeler van die klub wat Sondag gesterf het nadat hy met ’n skerp voorwerp gesteek is, het Son­dagmiddag saam met die klubbestuur sy ouerhuis besoek om medelye met sy gebroke ma en sy familie te betuig.


Volgens Edward Jackson, ’n be­stuurslid van die klub, was May ’n speler om mee rekening te hou.
“Boutros was ’n voorbeeldige jong man wat nie sy lewe met drank en dwelms opgemors het nie,” het Jackson gesê.

Hy het in sy toespraak uitgevaar teen nagklubeienaars wat nie voldoende sekuri­teits­maatreëls daarstel nie, asook oor sogenaamde “tikhuise”.

“Die tyd het aangebreek dat die gemeenskap optogte na tikplekke hou. Genoeg is genoeg,” het Jackson gesê.

Oor plasings op sosiale media waar gevra word waarom May in die vroeë oggendure op straat was, het Jackson gesê dit was Boutros se reg om vroeg­oggend buite te wees. Luidens kommentaar op sosiale media en uit gesprekke met klubbe­stuurs­lede was May nie iemand wat gekuier of alkohol misbruik of selfs gerook het nie.

Jackson het ’n beroep op May se familie gedoen om die rugbyklub toe te laat om deel te wees van sy begrafnis.

“Ons wil dit ’n Bridgton Rugbyklub-begrafnis maak omdat Boutros dit verdien. Die klub sal nooit weer dieselfde wees nie.”

Volgens Jackson is dit tragies dat “bruin­mense, ’n minderheidsgroep, mekaar so uitroei”.

“Dis net bruinmense wat messteek,” het hy gesê.

Die voorsitter van die klub se Lief-en-Leed-komitee, Dawid “Darra” Levendal, het namens die klub hul meegevoel met die familie betuig terwyl Engela Hamman, komiteelid, gesê het dat Boutros ’n baie goeie voorbeeld vir ander jongmense gestel het.

Haar trooswoorde aan die familie was: “As God iets gedoen het, kan dit nie verkeerd wees nie. So wie is ons om vinger te wys?”

Hennie Baartman, klubpresident, het gesê May is sedert 2014 deel van die Bridgton Rugbyklub. Hy het eers in die derde span begin speel, maar gou gevorder na die eerste span waar hy die nommer 7-flank was.

“Hy was ’n skitterende rugbyspeler, stil van ge­aard­heid en respekvol. Hy was ’n goedgemanierde seun, maar op die rugbyveld het hy ten spyte van sy stil geaardheid meer as sy deel gedoen.”

Volgens Baartman het May die Bridgton-rugbytrui met “onderskeiding” gedra.

“Boutros was geliefd in die klub, en wat vir ons opvallend was – sedert die begin van ons voorbereiding in November verlede jaar – was dat hy die spelers aangespoor het om te kom oefen en om hul beste te gee. Hy het selfs die afrigter bemoedig,” het hy gesê.

Volgens Baartman was May so toe­gewyd dat hy self spelers sou gaan oplaai voor oefeninge.

“Hy het die ekstra myl geloop, en hy het so uitgesien na die 2023-seisoen. Hy het geglo hierdie jaar sou een van die beste jare vir die klub wees.

“Ons as Bridgton Rugbyklub is in hartseer ge­dompel, ons is in skok, ons betreur sy afsterwe. Dis onregverdig dat sy jong lewe tot so ’n einde moes kom. Hy het nooit iemand seergemaak nie, nie eens ’n vlieg nie.

“Sy dood is tragies, en daar is nou ’n groot leemte in die span.” (Garnett Wicomb en Stefan Skapie Goosen)