Sewe van munisipaliteit vas wat koperkabels steel

SEWE munisipale werkers van die afdeling vir infrastruktuur is tydelik geskors, nadat hul na bewering krag-kabels gesteel het.

Die Oudtshoorn munisipaliteit is tans besig om klagstate voor te berei vir dissiplinêre verhore teen die werknemers.

Daar sal ook kriminele klagtes teen die sewe werknemers ingedien word, en hulle sal krimineel vervolg word.

Die Hoorn het skermgrepe bekom, waar munisipale werkers meer as 180 kg koperkabels aan ’n plaaslike skroot-metaalonderneming probeer verkoop het.

Die eienaar van die besigheid het owerhede in kennis gestel hiervan.

Die skorsing van die werkers is deur Oudtshoorn se Munisipale Bestuurder, Walter Hendriks aan Die Hoorn bevestig. Die uitvoerende burgemeester, Chris Macpherson het aan Die Hoorn gesê dat hy dit duidelik wil stel dat daar nie geskroom sal word om teen werknemers op te tree en klagtes te ondersoek nie.

“Ons is terdeë daarvan bewus dat die skorsing van werknemers ’n groter werklas op departemente plaas, maar die boodskap moet duidelik wees dat daar daadwerklik teen enige werknemer opgetree sal word wat aan wangedrag of misdadigheid skuldig bevind word.” sluit Macpherson af. (Deur Angelique Erasmus)