Kannas vir Oudtshoorn se Liza Grobler en Karoo Kaarte!

Bo: Liza Grobler (middel) wat die Kanna vir visuele kuns gewen het, hier by Yolisa Mlungwana (links) en Johann Kruger van Absa wat dié Kanna geborg het. Onder: Neil Coppen (links) en Craig Leo (regs) van Droomkraan Kronieke saam met Peter Dorrington van Herotel (middel) wat die toekenning geborg het. Foto's : Natalie Gabriels Photography

DIE plaaslike kunstenaar Liza Grobler en die Karoo Kaarte-projek wat verlede jaar op Oudtshoorn afgeskop het, was Vrydagaand twee van die ontvangers van vanjaar se Kanna-toekennings.

Die Kannas vereer jaarliks die toppresteerders by die KKNK en is tydens ’n geselligheid by Leopard’s Leap Wynlandgoed net buite Franschoek oorhandig.

Grobler, wat die afgelope twee jaar op Oudtshoorn woon en vanjaar die KKNK se feeskunstenaar was, is bekroon vir haar uitstalling Inkommers, laatkommers & laatlammers, asook vir die massiewe Droom-installasie wat op die oop stuk grond oorkant Tuishuis in Baron van Reedestraat verrys het as deel van die ReWOLusie-projek. Die woord droom is vir die installasie in agt tale deur vroue van Oudtshoorn uit pers geskenklint gehekel.

Neil Coppen en Craig Leo is bekroon vir die ontwerp en konsep van die fisieke teaterstuk
Droomkraan Kronieke, die tweede teaterproduksie wat as deel van die KKNK se Karoo Kaarte-
projek geskep is. Plaaslike akteurs, dansers en musikante is sedert 2021 by die projek betrokke.

Vanjaar se produksie is saamgestel uit kinderstories en verskeie Oudtshoorniete se kinderherinneringe wat hulle tydens ’n navorsingsprojek met die span gedeel het.

Die projek is boonop vir die tweede jaar met die Herrie-prys vir innovasie/grensverskuiwende werk bekroon.

Diane de Beer, lid van die Kannapaneel, het namens die paneel gesê sy is geheel en al oorrompel deur die verbeeldingryke spel en storie, wat saam met al die ander elemente van Karoo Kaarte bygedra het tot die erkenning.

“Karoo Kaarte draai rondom Oudtshoorn-stories. Sodoende word ’n lewende argief saamgestel deur almal wat wil deelneem aan dié opwindende projek, wat reeds baie gedoen het om die KKNK een van die mees inklusiewe feeste in die land te maak.

“Die sukses van Karoo Kaarte lê daarin dat dit bestuur word deur mense wie se harte en arms oopstaan om almal van die gemeenskap wat wil deelneem te betrek. Vanjaar het die inspirerende fisieke teaterproduksie, Droomkraan Kronieke, met kinderspeletjies, -herinneringe en -drome harte gesteel.”

Dié projek het ook ’n app, kinderstorieboek, kunsuitstallings, werksessies en zines ingesluit.
Hulle wen die ander Kannas

Die grootste wenner van die aand was die produksie Mirre en aalwyn wat in die buitelug voor ’n plaashuis buite Oudtshoorn aangebied is, en met drie Kannas bekroon is – vir beste toneelaanbieding; Nicola Hanekom as beste regisseur en ook vir die beste literêre bydrae vir haar oorspronklike teks.

David Kramer se nuwe musiekspel Ver in die wêreld Kittie is bekroon met die Kanna vir beste
musiekaanbieding, asook die Kanna vir die beste ensemble vir die spel van Dean Balie, Jenny Stead, André Terblanche en Rushney Ferguson, wat die verhaal van Josef Marais, Rosa De Miranda, Kittie Jaftha en Koos Heuningbek uit die 1950’s vertel.

Dawid Minnaar het die Kanna ontvang vir beste vertolking in Mirakel.

Ander Kannas het gegaan aan Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl is vir die beste kinderteateraanbieding (Liewe Heksie vang vis) en aan Gita Fourie vir beste opkomende kunstenaar vir haar teks van die klug Afval.

Die Slurpie-prys, ’n spesiale prys aan ’n belangrike jong stem, het gegaan na Veronique Jephtas vir haar bydrae as skrywer en speler in My kroon se krank.

Alwyn van Zyl het die Kanna vir uitnemende tegniese bydrae ontvang en Zonika van Zyl die Kanna vir opkomende tegniese talent.

  • Die 28ste KKNK vind van 23 tot 31 Maart 2024 plaas. Die volgende Klein Karoo Klassique vind van 4 tot 7 Augustus op Oudtshoorn plaas. (Deur Liesel le Roux)