Ses lede van gesin sterf in Kanaal-huisbrand

Die toneel van die huisbrand in Bogolethu, Oudtshoorn wat Woensdagog­gend ses lewens geëis het. Foto: Jolin Loggenberg

Burgemeester Chris Macpherson (links) en munisipale bestuurder Walter Hendricks (middel) gesels met Arrie Mei, broer van een van die oorledenes. Foto verskaf

INWONERS van die Kanaal-omgewing in Bongolethu, Oudtshoorn was gister (Woensdag, 11 Januarie) erg geskok en ’n familie in rou gedompel na die dood van ’n gesin van ses – insluitend ’n kleuter – in die vroeë oggendure toe hul woning deur vlamme vernietig is.

Nuus oor dié tragedie het soos ’n veldbrand deur die gemeenskap versprei, terwyl daar wyd bespiegel is oor die oorsaak daarvan.

Talle inwoners was van mening dat beurtkrag ’n rol in die tragedie kon gespeel het.

Beurtkrag het Woensdagoggend tussen 00:00 en 02:30 in die Groter Oudts­hoorn plaasgevind.

Volgens sers Chris Spies, woordvoer­der van die Suid-Kaap Polisie, moet die oorsaak van die brand egter nog vasgestel word, en gaan die ondersoek in die saak steeds voort.

Volgens Spies is ’n geregtelike doods­ondersoek-dossier deur die Oudtshoorn Polisie geopen nadat die ses lyke van die gesin in die puin van die brand in Kanaalweg gevind is.

Die brand het omstreeks 02:55 plaasgevind.

“Die voorlopige ondersoek wys daarop dat polisielede na Bongolethu gestuur is waar strukture aan die brand was. Met hul aankoms is vyf volwassenes en ’n kleuter deur paramedici op die toneel dood ver­klaar,” het hy gesê.

Die Groter Oudtshoorn se burgemees­ter, Chris Macpherson, en die munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het gisteroggend die toneel besoek, en met een van die oorledenes se broer, Arrie Mei, gesels om hul medelye te betoon en om navrae te doen oor hoe die munisipaliteit bystand kan lewer.

Wyksraadslid Zoe Tyatya sê mense wat bystand aan die familie wil bied, kan met hom in verbintenis tree.

Skakel Tyatya by 063 644 5495. (Deur Stefan Skapie Goosen)