Nuwe jaar, nuwe lewe!

Bo en onder: Ontmoet vir Xavier, Xion, Xara, Xena en Xyla, vyf pragtige luiperdwelpies wat laat in 2022 by die Cango Wildife Ranch op Oudtshoorn se Cheetah Preservation Foundation gebore is en wat besoekers aan die Ranch nou kan besigtig! Foto’s: Angelique Erasmus

DIE Cango Wildlife Ranch op Oudtshoorn het teen die einde van 2022 vyf jagluiperdwelpies ryker geword, wat besoekers nou in die nuwe jaar kan gaan besigtig.

Dié twee mannetjies en drie wyfies is verlede jaar Oktober by die Ranch se Cheetah Preservation Foundation gebore. Hul ma, die vyfjarige Sansa, het besluit om eerder onder ’n digte spekbos geboorte aan die vyfling te skenk as in die lekker gemaklike plekkie wat vir haar ingerig is!
Sansa het in 2021 ook die lewe aan vier gesonde welpies geskenk.

Jagluiperds word as ’n kwesbare spesie geklassifiseer, met ’n populasie van minder as 7 100 van hierdie pragtige diere. Redes hiervoor sluit klimaatsverandering en die verkleining van hul natuur­like habitat in. Hulle het ook ’n baie lae suksesvolle voorplantingspersentasie.

Die oorlewingspersentasie vir welpies in die natuur is slegs sowat 30%. Met jagluiperds wat in gevangenisskap geteel word, word hul kans op oorlewing egter tot 90% verhoog.

Die welpies, Xavier, Xion, Xara, Xena en Xyla, het vir twee weke by hul ma gebly en melk gedrink. Dit het verseker dat hul genoeg kolostrom inkry en sterk teenliggaampies vir ’n sterker immuunstelsel ontwikkel.

Daar is ’n rede hoekom almal se name met ’n X begin. Dit is om te verseker dat daar nie inteling plaasvind nie.

Met Die Hoorn se besoek aan die welpies was hulle reeds drie maande oud, en baie aktief en spelerig. Hul gunsteling speelding is ’n groen bal wat elkeen om die beurt rol of met hul pote rondstamp.

Om hulle teen enige siektes te beskerm, moet besoekers eers hul hande was en hul skoene ontsmet. Daarna kan besoekers aan die welpies se rûe of agter aan hulle koppies vat.

“Die strook hare laat hul kompleet lyk of hulle ’n mohawk het en die rede hiervoor is sodat hulle kwaaier lyk in die natuur. Dit help om ander roofdiere af te skrik,” het Heinz Guder, een van die welpies se versorgers, aan Die Hoorn verduidelik.

Die welpies eet reeds vleis, en word drie maal per dag gevoer.

Oudtshoorniete is welkom om vir die oulike vyfling te gaan kuier. Dit is ’n belewenis om hier­die diere van nader te bekyk. (Deur Angelique Erasmus)