DIE proporsionele raadslid van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit wat van seksuele aanranding aangekla word, het Kersfees 2022 agter tralies deurgebring nadat sy saak aan die einde van verlede jaar in die distrikshof tot 24 Januarie vanjaar uitgestel is.
Die 40-jarige raadslid word daarvan aangekla dat hy na bewering ’n 37-jarige vroulike werknemer van die munisipaliteit in sy kantoor betas het nadat hy glo die deur gesluit en haar ’n beter pos aangebied het.
Hy is steeds in aanhouding nadat borgtog aan hom deur landdros Stephanie Strydom geweier is.
Volgens die staatsaanklaer, Danielle van der Westhuizen, is die saak vir verdere ondersoek en vasstelling van ’n streekhofdatum uitgestel na ’n beslissing van die Direkteur van Openbare
Vervolging (DOV) dat die saak vanweë die erns van die klagte in die streekhof aangehoor moet word.
Die raadslid het met sy inhegtenisneming ’n senior posisie in die Oudtshoorn-raad beklee, maar het sedertdien in ’n brief aan die speaker sy bedanking uit die amp ingedien.
Hy skryf in die brief dat hy bedank sodat die werk van sy kantoor kan voortgaan met dienslewering aan die gemeenskap.
Hy is egter steeds ’n proporsionele raadslid wat sy party verteenwoordig. (Deur Garnett Wicomb)
Senior raadslid van Oudtshoorn hele feestyd agter tralies
