SES mense is Vrydag (16 Julie) beseer in ’n botsing tussen drie voertuie op die kruising van Voortrekker- en Langenhovenweg, reg langs die Oudtshoorn Munisipaliteit se hoofgebou.
Minstens twee van die beseerdes is op die toneel vir beserings behandel, waarna albei per ambulans hospitaal toe vervoer is.
Die aard van hul beserings, en ook dié van die vier ander mense wat volgens die Oudtshoorn Polisie beseer is, is steeds onbekend.
Reddingspersoneel en brandweerdienste het die kruising vol gestaan soos hulle die ongelukstoneel opgeruim het.
Slegs ’n wit Toyota-bakkie en grys Volkswagen Polo kon op die toneel gesien word. Besonderhede oor die derde voertuig is nie bekend nie.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die botsing om 14:35 plaasgevind nadat die Polo na bewering oor ’n rooi verkeerslig gery het, en met twee ander voertuie gebots het.
Sy sê die Polisie ondersoek ’n klag van roekelose en nalatige bestuur.
Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid in die Tuinroete-distrik, het Woensdag (21 Julie) bevestig dat ses pasiënte by Oudtshoorn Hospitaal se noodeenheid behandeling ontvang het. Hulle is ná die behandeling weer ontslaan. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Ses beseer in drie-voertuig botsing
Die toneel Vrydag, 16 Julie op die hoek van Voortrekker- en Langenhovenweg. Foto’s: Stefan Skapie Goosen