Senior amptenaar tydelik geskors

Reginald Smith

DIE direkteur korporatiewe dienste by die Groter Oudtshoorn-munisialiteit, Reginald (Reggie) Smith, is na wat betroubaar verneem word, verlede Donderdag tydens ’n spesiale raadsvergadering voorlopig geskors.

Die munisipaliteit het gister (Woensdag) bevestig dat ’n senior amptenaar voorlopig geskors is weens aantygings van finansiële ongerymdhede, maar wou nie die naam van die amptenaar bekendmaak nie.

Smith het sedert begin Augustus 2019 in die kernpos van munisipale bestuurder by die Groter Oudtshoorn waargeneem tydens die termyne van twee DA-burgemeesters, Colan Sylvester en Chris Macpherson.

Hy is waarnemend as munisipale burgemeester aangestel toe die DA-raadslede in 2019 besluit het om Allen Paulse as munisipale bestuurder te skors.

Paulse se skorsing het ná maande se spanning tussen Paulse en Sylvester gevolg, met die DA-raadslede wat nie eenstemmig was oor dié skorsing nie, maar glo ’n koukusbesluit moes gehoorsaam.

Smith het sedert die begin van die maand teruggekeer na sy pos as korporatiewe bestuurder toe die raad deur Icosa, die ANC en Sarco oorgeneem en Walter Hendricks as waarnemende munisipale bestuurder aangestel is. Smith het nou sewe dae tyd om redes te verskaf waarom hy nie geskors mag word nie.

Volgens Die Hoorn se inligting het die raad ook Vrydag besluit om twee ander munisipale amptenare voorlopig te skors. (Deur Liesel le Roux)