Rioolheffings onwettig

DIE rioolheffings van die Oudtshoorn Munisipaliteit is onwettig en moet binne 120 dae regge-stel word.

Dit was die beslissing van regter Kate Savage in ’n hofsaak in die Hooggeregshof in Kaapstad wat verreikende gevolge kan hê op munisipaliteite regoor die land wat soortgelyke tariewe aan inwoners hef.

In die hofsaak, wat op 6 Oktober tot ’n einde gekom het, het die AfriForum-tak op Oudsthoorn die rioolheffings van die plaaslike munisipaliteit betwis. AfriForum het aangevoer dat die munisipaliteit se rioolheffings wat per toilet in huishoudings gehef word, onwettig is en teenstrydig is met wetgewing.

Die hofsaak het gevolg ná Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning AfriForum in 2018 uitgedaag het om die twispunt in die hof te toets.

Die Hoorn het reeds in Junie 2018 berig dat die riooltariewe volgens AfriForum al sedert 1 Maart 2001 verkeerdelik gehef word. Die burgerregte-organisasie het toe reeds gesê dat moontlike regsaksie sou volg indien die munisipaliteit “in gebreke bly” om aan hul versoek gehoor te gee. Ná verskeie onsuksesvolle vergaderings met Bredell en die munisipaliteit het AfriForum besluit om hom tot die hof te wend.

AfriForum het in daardie stadium gesê dat die berekening van riooltariewe teenstrydig met Artikel 74 (2) (b) van die Munisipale Stel­selsw­et (Wet 32 van 2000) is, wat bepaal dat die bedrag wat individuele ver­bruikers vir munisipale dienste moet betaal, aan die hand van die gebruik van dié dienste bepaal moet word.

Volgens AfriForum beteken dit dat die riool-heffing wat tans as ’n heffing per toilet op die rekeningstaat verskyn nie in lyn is met wetgewing nie.

AfriForum het vandeesweek in ’n persverklaring gesê hoewel die saak nie in die hof teengestaan is nie, die regter steeds gevra het dat die burgerregte-organisasie die saak voor haar argumenteer weens die omvang en belangrikheid daarvan.

“Die uitspraak het nie net ’n impak op die Oudtshoorn Munisipaliteit nie, maar ook op verskeie ander munisipaliteite in die Wes-Kaap wat dieselfde praktyk volg,” lui die persverklaring.

“Ná al die vergaderings het Bredell AfriForum uitgedaag om die twispunt in die hof te toets. Die Oudtshoorn-tak is verheug oor hierdie belangrike oorwinning wat behaal is. Ons sal steeds streef om goeie samewerking met die munisipaliteit te handhaaf om ons dorp te verbeter. As burgerregtewaghond sal ons nie skroom om die munisipaliteit die stryd aan te sê as sake nie reg en regverdig verloop nie,” het Johan Conradie, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak, gesê.

“AfriForum het met hierdie saak weer eens bewys wat die waarde van ’n saamstaangemeenskap is. Ek wens die takbestuur geluk wat met doelgerigtheid en deursettingvermoë die kwessie tot ’n spits gedryf het,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

• Volgens Walter Hendricks, waarnemende munisipale bestuurder van die Oudtshoorn Munisipaliteit is hulle nie bewus van die uitspraak nie en sal hulle kommentaar lewer sodra hulle dit (die uitspraak) ontvang het. (Deur Stefan Skapie Goosen)