POGINGS van die Wes-Kaapse regering om voort te gaan met ’n finansiële herstelplan in Kannaland en die samewerking daarvoor van die Kannaland-raad te kry, het verlede Donderdag (7 Oktober) die wind van voor in die Kaapse Hooggeregshof gekry.
Regter AJ Lekhuleni het ’n aansoek van die Wes-Kaapse provinsiale uitvoerende bestuur dat hul ingryping in Kannaland sedert 2016 wettig verklaar moet word sodat dit kan voortgaan, met koste van die hand gewys. Hy het bevind dat die herstelplan onwettig en ongrondwetlik was en dat so ’n finansiële herstelplan die verantwoordelikheid van Nasionale Tesourie se MFRS (Municipal Finance Recovery Services) is en nie van ’n provinsie of provinsiale tesourie nie.
Die Wes-Kaapse regering is in 2016 deur die Kannaland-raad, wat daardie tyd deur die ANC en die DA beheer is, versoek om in te gryp omdat die munisipaliteit in groot finansiële moeilikheid was. ’n Herstelplan is opgestel en ’n finansiële administrateur aangestel.
In 2018 was daar egter ’n mags-oorname van die raad deur ’n koalisie van Icosa en die ANC, met Icosa wat van die begin af teen die ingryping deur die provinsie en die herstelplan gekant was. In 2020 het die Kannaland-raad besluit om onder die leiding van Icosa die vrywillige administrasie op te skort
Icosa het ná die uitspraak op die party se Facebook-blad gesê die uitspraak is ’n oorwinning vir Icosa.
Die inskrywing lui: “In Desember 2020 het Icosa in koalisie gegaan met die ANC, maar die ANC-raadslede en die DA het steeds onder die kombers saamgewerk. Ons het toe besluit om die vrywillige administrasie op te skort en die administrateur te laat gaan.”
Anton Bredell, Wes-Kaapse mini-ster van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het ná die uitspraak gesê hy is bekommerd oor die ernstige finansiële uitdagings in Kannaland.
“In 2016 was die Kannaland-raad in sulke groot finansiële moeilikheid dat hulle nie basiese dienste kon lewer of finansiële verpligtinge kon nakom nie.
Op uitnodiging van die raad is ’n finansiële herstelplan opgestel en was die munisipaliteit op pad na herstel toe die verandering in leierskap in 2020 plaasgevind het. Die politieke partye en raadslede wat verantwoordelik was vir die agteruitgang by die munisipaliteit is nou weer in beheer van Kannaland, een van die armste landelike gemeenskappe in die Wes-Kaap.”
Volgens Bredell het Kannaland se agterstallige Eskom-skuld einde September op R19 miljoen gestaan, bedryf die munisipaliteit tans ’n onbefondste begroting vir 2021/22 en is finansiële jaarstate nie binne die voorgeskrewe tydsraamwerke ingedien nie. “Sonder die optrede van die provinsiale regering en die finansiële en tegniese ondersteuning sedert 2016, sou dienslewering misluk het. Ons staan by ons optrede.”
Bredell het gesê die provinsie hersien tans die uitspraak en sal hul opsies vorentoe oorweeg. (Deur Liesel le Roux)