Rolspelers praat oor toilette

Die vergadering is bygewoon deur (agter van links) Diane Booysen (INF), Brandon Delport (INF), Sylvia Tyatya, Nigel Everts, Neal Sewnarain (almal Bidvest), Mpumelelo Jafta (INF), Ilyas Ganey (Bidvest), Chanel Saayman (INF) en Frank Bergh (INF). Voor sit Zyna Carelse-Mduma (INF) en Vlancio Donson (uitvoerende burgemeester). Foto verskaf

NÁ maande se ontevredenheid en protesoptrede oor die verskaffing en dienslewering van chemiese toilette aan informele nedersettings rondom Oudtshoorn en die gepaardgaande tenderproses, het inwoners uiteindelik die geleentheid gehad om by ’n vergadering met die diensverskaffer, Bidvest, en die Oudtshoorn Munisipaliteit hul griewe te lug en saam oplossings te vind.

Die toeken van die tender aan ’n nuwe verskaffer het inwoners vroeër vanjaar warm onder die kraag gehad. Nie net het hulle beweer die munisipaliteit het hulle nie geken in die tenderproses nie, die toilette was ook volgens hulle nie op standaard nie.

In September het inwoners gedreig dat hulle nie die nuwe kontrakteur of hul toilette en dienste sal aanvaar nie. Hulle was tevrede met die vorige diensverskaffer, Top Loos, maar dié maatskappy se kontrak is nie hernu nie.

Die vergadering, wat op 1 Oktober plaasgevind het, is gereël deur Vlancio Donson, burgemeester van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit. Luidens ’n verklaring van die munisipaliteit was die doel van die vergadering om ’n middeweg te vind.

By die vergadering het die nuutgevormde Informele Nedersettingsforum (INF) hul griewe herhaal waarna ’n verteenwoordiger van Bidvest onderneem het om die INF se klagtes na hul bestuur toe te verwys.

Daar is bygevoeg dat die maatskappy ’n verskaffer in Knysna sal gebruik om die toilette, wat volgens die INF nie op standaard is nie, geleidelik te vervang.

Die INF het toe ingestem dat hulle intussen gebruik sal maak van Bidvest se chemiese toilette wat tans by die munisipale depot beskikbaar is.

Bidvest het ook onderneem om by te dra tot studiebeurse, internskappe/vakleerlingskappe en ander maatskaplike ontwikkelingsinisiatiewe.

Volgens Zyna Carelse-Nduma, woordvoerder van die INF, was dit ’n goeie vergadering en verstaan hulle die situasie nou beter.

“Die mense verstaan nou beter wat gebeur. Bidvest moes ons van die begin af gesê het dat die eerste toilette net tydelik in plek sou wees. Die skoonmaak van die toilette het hulle ook aangespreek, wat ons nou weet meer as een keer per maand sal wees.

“Ons het seker gemaak hulle verstaan wat die gemeenskap verwag, nie net met die toilette nie, maar oor die sosiale kwessies ook.

“Ons is bly ons kon uiteindelik met die munisipaliteit en Bidvest gesels,” het sy Maandag (11 Oktober) gesê.

Volgens Nduma wag hulle nou dat alles wat in die vergadering bespreek en ooreengekom is, op skrif gesit word. Sy het gesê Top Loos het reeds verlede week hul toilette begin verwyder en dat die gemeenskap die munisipaliteit en Bidvest verantwoordelik sal hou vir wat in die vergadering beloof is. (Deur Stefan Skapie Goosen)