Seksuele saak teen boer uitgestel vir uitspraak

DIE saak teen ’n boer van Wynandsrivier in die Oudtshoorn distrik, wat tereg staan op twee aanklagte van verkragting en een van seksuele aanranding van ’n 14-jarige meisie, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof na argumente vir uitspraak tot 18 Oktober uitgestel.

Die 65-jarige Andries Grundling word daarvan aangekla dat hy die 14-jarige in 2020 betas en gesoen het, en by twee geleenthede in 2021 geslagsgemeenskap met haar gehad het, terwyl sy op die plaas gekuier het.

Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, vra die hof vir sy skuldigbevinding op al drie aanklagte omdat die klaer geen motief gehad het om hom valslik te beskuldig nie en by haar weergawe gehou het, selfs onder kruisondervraging. Sy regverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, is egter van mening dat die staat onbillike afleidings maak en nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.

Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor. (Deur Garnett Wicomb)