Bedrogsaak teen Rabie-egpaar duur voort

Die verhoor van ’n egpaar van Oudtshoorn wat tereg staan op 37 aanklagte van bedrog, alternatiewelik korrupsie, waarby miljoene rande betrokke is, is in die Oudtshoorn streekhof na drie dae se kruisverhoor van die vrou, Johanna Rabie, vir voortsetting tot 11 Desember uitgestel.

Die staat beweer dat Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse Departement van Landbou by die Oudtshoorn proefplaas, sy vrou, Johanna Rabie, se twee beslote korporasies, Attakwa en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 bevoordeel het met die toekenning van staatstenders.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding het dit aan Rabie gestel dat sy haar eienaarskap van Gwaiing Ontwikkelings geheim gehou het wanneer dit by die indiening van kwotasies gekom het. Sy het na bewering om die rede altyd iemand saam met haar na terreinvergaderings geneem waar daar dan namens Gwaiing Onwikkeling dokumente deur die persoon onderteken het.

Volgens Goulding sal hy betoog dat Marthinus Rabie as tegnikus by die Oudtshoorn Proefplaas kennis gedra het van ander kontrakteurs se kwotasies vir projekte. Hy het sy vrou dan meegedeel wat die bedrae was en sy dan ’n laer kwotasie ingedien en die werk gekry het.

Johanna Rabie het getuig die rede waarom sy Francois de Kock gevra het om saam te gaan na terreinvergaderings, was omdat sy dikwels die enigste kontrakteur was wat teenwoordig was. Sy het dikwels ook ander mense gevra om haar na terreinvergaderings te vergesel, het sy getuig.

Sy ontken dat sy De Kock versoek het om kwotasies namens Gwaiiing Ontwikkelings op te stel.
Volgens Goulding het die meeste van die staatsgetuies nie geweet dat Johanna Rabie die eienaar van beide BK’s was nie en dit eers baie later uitgevind het.

Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en is vir ’n verdere drie dae se verhoor, van 11 tot 13 Desember 2023 uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)