
Die Outeniqua Uithouritklub bied die naweek, 22 -23 September, ’n perde-uithourit op Louvain Gasteplaas, sowat 50 km buite Oudtshoorn aan.
Daar is tans sowat 50 perde ingeskryf, meeste wat vanaf die Wes-Kaap kom deelneem.
Die afstande wat oor twee dae gery gaan word sluit in, 40 km, 80 km, 120 km en 160 km.
Perde word deurlopend deur veeartse dopgehou en ondersoek om te verseker dat hulle reg is om elke ronte weer op die baan uit te gaan.
Hierdie is die derde rit by Louvain vanjaar, met die vorige ritte wat in Maart, en SAIC (South African International Challenge), wat in Mei op die pragtige gasteplaas plaasgevind het. 150 perde, en deelnemers vanaf Namibië het aan SAIC deelgeneem.
Afgesien van die natuurskoon, is dié ’n uitdagende baan, met baie bulte, en selfs klipperige gedeeltes. Daar word ook reën voorspel, wat die baan moontlik modderig kan maak.
Bekende ruiters vanuit die Klein Karoo omge-wing wat deelneem is die sibbe Nico-Meyer en Lara le Roux, en ook Almarie Nel en Ankhe Muller wat beide leerders aan Langenhoven Gimnasium is.
Muller het ook in Junie Fauremsith se 200 km suksesvol voltooi.
Toeskouers is welkom om die rit te kom bywoon, daar sal heerlike kosstalletjies beskikbaar wees. Wegspringtye vir Vrydag begin om 09:00 en Saterdag begin die rit 04:00 vm.
Kom besigtig hierdie prag perde. (Deur Angelique Erasmus)