Pret tydens Oudtshoorn Dieredag

Ilse Jordan van Oudtshoorn met haar dierekind, Bob, wat saam die dag geniet het. Foto: Lindi Brill Foto onder: Aniske Nortjè en haar hond Jessie, een van die wenners van die “lookalike” kompetisie. Foto verskaf

DIE jaarlikse Dieredag wat op Saterdag, 16 September, by die staatsveearts in Van der Rietstraat gehou is, het gesorg vir baie pret en plesier.

Die dag is aangebied in samewerking met Oudtshoorn se staatsveearts, Dr Cathy Fox en haar span, en die dierewelsynorganisasie ACT (Animal Care Team). Hierdie was die 5de jaar wat die dag in Oudtshoorn aangebied is. Laerskool Van Reede se trompoppies het die dag afgeskop met hul pragtige vertoning.

Daarna het Hoërskool Oudtshoorn se bekende en gewilde “Colour run” plaasgevind, met die talle kleurryke atlete wat hul gate uit geniet het.

Daar was ook ’n kompetisie waar die wenners gekies is van die hond en eienaar wat die meeste na mekaar lyk. Laerskool Laurus het die voortou geneem met die aanbied van hierdie oulike kompetisie. ’n Baie belangrike deel van die dag was die gratis hondsdolheid-inentings wat deur die staatsveearts gedoen is. Die getal diere wat ingeënt is, is 316 honde en 66 katte. Die totale aantal inentings was 382.

“Ons sou graag wou sien dat daar baie meer diere ingeënt word teen hondsdolheid, maar ons is dankbaar vir die groot getal diere wat wel ingeënt is”, het Vanessa Engelbrecht van ACT gesê. (Deur Lindi Brill)