
Sielsverrykend, onoortreflik, fantasties…dis ’n paar van die beskrywende woorde wat gaste gebruik het om die tydskrif Bruis se kuieroggend op Celebratio op Saterdag 16 September te beskryf.
Die 300 kaartjies is vooraf uitverkoop en mense van regoor die land het die oggend bygewoon.
“Dit was pitkos vir die siel” het een van die gaste opgemerk terwyl ’n ander een gesê het hulle het lanklaas so lekker gelag, geëet en gekuier.
Die radio-omroeper en motiveringspreker Amore Bekker, die storie-verteller Antoinette Pienaar, die sanger Jannie Moolman en oud-Mej SA, Amy Kleinhans-Curd, het elk iets besonders met die gaste gedeel.
“Dit was voorwaar ’n onvergeetlike, nostalgiese dag in die Klein Karoo.
Met die intrapslag was alles perfek: die venue en dekor, Grundheim se verwelkomingsdrankie, Celebratio se granaatsap, De Krans se Moscato-wyne, Nostalgie se eetgoed, die sprekers en die vermaak,” het Bella Cronjé van George gesê. (Deur Marita Meyer)