Rondganger saak sloer

Eric Xaxaka

DIE verhoor van die vermeende moordenaar van sy meisie se pa wat verlede Woensdag in die Oudtshoorn streekhof sou begin, moes uitgestel word omdat die beskuldigde se regsverteenwoordiger weens familieverpligtinge nie by die hof kon wees nie.

Die 36-jarige Patrick Rondganger het na bewering in April 2022 Eric Xaxaka (60) van Bongolethu vermoor en sy lyk in ’n vlak graf onder twee yskaste begrawe in Xaxaka se erf.

Hy staan tereg op klagtes van moord, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg. Xaxaka se lyk is op 8 April in ’n buitekamer gevind nadat hy twee dae tevore as vermis by die polisie aangemeld is. Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die hof gister versoek om die saak tot 24 Oktober uit te stel vir ’n moontlike pleit-ooreenkoms.

Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla. (Deur Garnett Wicomb)