
DIE Oudtshoorn Spiritual Crime Prevention initiative, onderleiding van Ranger Grebe as projek- bestuurdeer, het Vrydagaand, 8 September saam met Pine Swart, Jaco Stevens, Deon Schutte, Christo Nel, lede van die Gemeenskappolisiëringsforum en met ondersteuning van die Oudtshoorn Polisie, verskeie kuierplekke in Oudtshoorn besoek.
Die doel van hierdie besoek aan sowat 8 kuierplekke wat hul geïdentifiseer het was om persone daar te vertel van die liefde van Jesus, en ook om gebed aan te bied vir persone wat dit benodig het en gebed gevra het. Die inisiatief het 21:00 afgeskop.
Musiek is tydens die sessie gestop sodat Grebe kon praat en ook bid vir almal wat die plek besoek het.
“Die doel hiervan was om ’n boodskap van hoop aan persone te bring, soms het mense net ’n woord van liefde en hoop nodig, wat in ’n donker en eensame plek vasgevang is,” het Grebe tydens een van die boodskappe gesê. By elke kuierplek is daar Psalm 23 voorgelees.
Die projek het Paasnaweek begin met die padblokkade vroeër vanjaar waar besoekers wat deur Oudtshoorn gery het, gestop is en daar vir hulle gebid is en elkeen ’n spesiale pakkie ontvang het.
Hierdie projek het afgeskop na aanleiding van al die moorde en motorongelukke wat Oudtshoorn die afgelope tyd affekteer, veral omdat daar by meeste van die insidente alkohol betrokke is.
Drank is geïdentifiseer as een van die hoof redes en probleme waarmee Oudtshoorn sukkel.
“Hierdie is een van ’n paar projekte om hoop in ons dorp te herstel,” het Grebe afgesluit. (Deur Angelique Erasmus)