Enjins gaan brul by SA’s!

Foto bo: Andre Oosthuizen Foto onder: Die American Saloons-aksie, die motors met die grootste enjins naamlik V8’s in aksie tydens vanjaar se Klein Karoo Kampioenskappe wat in Julie op Oudtshoorn aangebeid is. Hierdie is een van Oudtshoorn se grootste Stock Car-renne wat hier plaasvind. Oudtshoorn bied die naweek die SA Stock Car-kampioenskappe aan. Moet dit nie misloop nie. Foto Angelique Erasmus

Die enjins gaan behoorlik brul, wiele draai tot die stof so staan, die modder spat….en die reuk van petrol gaan in die lug hang by die SA Stock Car-kampioenskappe, wat hierdie naweek hier op Oudtshoorn plaasvind.

Oudtshoorn het hierdie massiewe wedren sowat 13 jaar gelede aangebied, en vanjaar is dit weer die grootvoëlparadys se beurt om drywers, hul spanne, families en besoekers van regoor Suid-Afrika die gasvryheid van Oudtshoorn te wys.

Petrolkoppe en Stock Car-aanhangers kan gerus Saterdag, 23 September, by die Red Rock Raceway net buite Oudtshoorn op die R62, om 10:00 wees, wanneer die hekke oopmaak vir toeskouers. Die eerste uitdun begin om 17:00. Vir die wat nie tot by die baan kan gaan nie, sal daar ’n regstreekse uitsending wees. Aanlynkaartjies is beskikbaar by www.motorsportza.tv teen R150 per uitsending.

Om hierdie groot gebeurtenis te vier het Die Hoorn besluit om drywers, spanne en elke persoon betrokke by die organisering van so ’n fantastiese wedren, voorspoed toe te wens met die aanbied daarvan en die deelnemers sterkte toe te wens.

Vanjaar is daar vyf verskillende klasse wat aan die SA’s deelneem naamlik die 1660’s, 2,1 Modifieds, Hotrods, Heavy Metals en die groot menere naamlik die V8’s. Daar was teen druktyd reeds meer as 80 inskrywings vir die verskeie klasse, en 10 drywers van Oudtshoorn.

Die Hoorn het met Dirk van der Westhuizen, voorsitter van die Oudtshoorn Motorklub gesels. Sy naam is sinoniem met hierdie motorsport. Hy was ook ’n kranige Stock Car-drywer sowat 15 jaar gelede en vandag volg sy seun, Burger van der Westhuizen, in sy pa se voetspore. Die appel het beslis nie vêr van die boom geval nie.

Hier is ’n kort opsomming vanaf Van der Westhuizen oor die verskillende klasse. “Motors word volgens die enjingrootte of die kapasiteit van die enjins ingedeel. Ook die hoeveelheid modifikasies wat aan die res van die motor aangebring is, word in ag geneem” verduidelik hy.

Die 1660’s klas is motors wat 1 600 cc enjins het, maar mag nie 1 660 kubieke sentimeter oorskry nie. Hulle is hoofsaaklik voorwielaangedrewe. Meeste van die motors in die klas is die Volkswagen Gholf’s.

2,1 Modifieds is motors wat weer agterwiel- aangedrewe is, en hul enjins mag nie meer as 2 100 kubieke sentimeter oorskry nie. Daar is min van hierdie motors wat net so van die pad afkom. Meeste het ’n pypraam wat die veiligheid van die drywer verseker met ’n glasveseldop. Gewilde motordoppe is Opel Corsas, Ford Fiestas, Opel Tigras en Renault Cleo’s.

Hotrods is 4-silinder enjins, en ook agterwiel-aangedrewe. Die kar bestaan uit ’n pypraam met ’n glasveselbak. Meeste motors is 2 100 cc en 16 klep enjins. Hierdie is die ou Mazda wankelenjins wat meer bekend is as “Rotaries”. Dit is ook die vinnigste klas op die baan.

Heavy Metals is motors met ’n 6-silinder enjin. Hier speel kapasiteit ook nie ’n rol nie. Dit is ook hoofsaaklik BMWs wat hier ry en die karre is ook meestal agterwielaangedrewe.

American Saloons is die groot menere en maak ook die meeste geraas met hul 8-silinder enjins. Van der Westhuizen vertel skertsend dat hul ook bekend staan as V8’s “want soos jy die petrol bo ingooi, so vinnig loop dit weer uit.”

Die 1660, 2,1 Modifieds en Hotrods en al die vier silindermotors ry ook kloksgewys om die baan omdat hierdie klasse in Europa en Engeland ontstaan het. Die drywers sit ook aan die regterkant van die motor, weg van die muur af.

Die Heavy Metals en American Saloons is soos die naam impliseer vanaf Amerika afkomstig en daarom ry drywers antikloksgewys om die baan. Hierdie drywers sit ook aan die linkerkant van die motors en is daarom die verste weg van die muur af.

Van Oudtshoorn se gunsteling drywers wat die naweek ry is in die 1660 klas, Leon Fouche, Martin Diener en Arno van Wyk.

In die 2,1 Modifies klas is Henties de Villiers, Burger van der Westhuizen en Hendricus Botha agter die stuur.

By die Hotrods klim Llwelyn Kotze, Clive Meyer en Werner van Rooyen in die rotary-enjins in. In die Heavy Metals klas kry ons vir Pieter Human, Zana Jansen en Francois Smit en laaste by die American Saloons of V8’s gaan Lucius Fourie en Coenie Meyer teen 11 ander drywers meeding vir die podium.

Kom ondersteun gerus jou gunsteling en beleef die elektriese atmosfeer en adrenalien-pomp- oomblikke vir die wat passievol is oor spoed en motorsport. (Deur Angelique Erasmus)