’N SENIOR raadslid (40) van die Groter Oudtshoorn verskyn vandag (6 Oktober) weer in die Oudtshoorn Distrikshof op ’n klagte van seksuele aanranding nadat hy Maandag deur die Oudtshoorn Polisie in hegtenis geneem is en later die dag ook in die hof verskyn het.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings ’n klag ondersoek wat deur ’n 37-jarige munisipale werknemer teen die raadslid ingedien is. Hierin het die klaer beweer die verdagte het omstreeks 09:00 op 27 September in sy kantoor beloftes van ’n beter pos aan haar gemaak en haar onbehoorlik aangeraak. Volgens die klagstaat het hy die vrou se rok opgelig en haar betas.
Die raadslid het Maandag vlugtig en sonder regsverteenwoordiging in die hof verskyn en die saak is deur landdros Graehymme Williams tot vandag uitgestel vir die aanstelling van ’n regsverteenwoordiger.
’n Ander saak waarin die raadslid van verkragting, aanranding om ernstig te beseer en twee aanklagte van gewone aanranding aangekla is, is Dinsdag deur streeklanddros Daniel Boks op versoek van die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Werner Swanepoel, in die Streekhof van die hofrol verwyder omdat dit volgens die hof duidelik is dat die klaer nie wou voortgaan met die saak nie.
In dié saak is die raadslid daarvan aangekla dat hy op 2 Oktober 2021 die 39-jarige klaer in ’n huis in Dassieweg, Bridgton op die grond neergegooi, op haar kop getrap en haar verkrag het. Hy het glo ook op 29 September 2021 ’n 16-jarige meisie met ’n stukkie hout geslaan en ’n vyfjarige seun met die plat hand geslaan en teen ’n hangkas gegooi.
Volgens Boks het die saak ’n geskiedenis van talle voorkeur- en finale uitstelle asook twee lasbriewe wat vir die klaagster uitgereik was. Op die eerste lasbrief is sy beboet terwyl die ondersoekbeampte ten spyte van verskeie pogings nie daarin kon slaag om die tweede lasbrief te bedien nie.
Boks het gelas dat die saak nie weer op die hofrol geplaas sal word nie behalwe as dit ’n beslissing van die direkteur van openbare vervolging is.
Macpherson, Dugmore reageer
Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het Vrydag in ’n persverklaring gesê hy is bewus van die klagtes teen die raadslid.
“Die omstandighede rondom die klagtes word deur die polisie ondersoek en daar moet vasgestel word of dit deel was van ’n proses om die raadslid te diskrediteer en hom uit sy posisie te verwyder.”
Hy het die omvang van gerugte en bespiegelings oor die aangeleentheid op sosiale media as kommerwekkend bestempel.
Cameron Dugmore, regeringshoof van die Wes-Kaapse ANC, het op sy beurt Maandag gesê die ANC glo dat die raadslid onmiddellik uit die amp wat hy beklee moet bedank en dat die reg sy gang moet gaan ten opsigte van ernstige klagtes.
Geen klagtes, geen ondersoek by munisipaliteit
Die munisipaliteit kan slegs ’n interne ondersoek na ’n raadslid gelas as ’n klag by die munisipale bestuurder ingedien word, lui ’n persverkla- ring wat Dinsdag deur Macpherson se kantoor uitgereik is. Hiervolgens is geen klagtes deur die munisipale bestuurder of burgemeester ontvang nie.
Volgens Hannes Visser, kommunikasiebeampte van die burgemeester, gee die munisipaliteit sy steun en samewerking tydens die polisie se ondersoek, maar het die munisipaliteit nie insae in die inhoud of omvang daarvan nie.
“Burgemeester Macpherson wil dit onomwonde stel dat enige vorm van seksuele teistering of seksuele misbruik onder geen omstandighede geduld sal word nie. Die munisipaliteit ondersteun die veldtog teen geslagsgebaseerde geweld ten volle en sal enige inligting onmiddellik opvolg om werknemers se veiligheid te beskerm.”
Die raadslid gaan volgens die verklaring intussen voort met sy werk as raadslid. Volgens munisipale
wetgewing verloor ’n raadslid slegs sy pos as hy of sy skuldig bevind word aan ’n kriminele klagte en gevonnis word tot minstens twee jaar gevangenisstraf sonder die keuse van ’n boete of as hy of sy deur sy party geskors word.
• Ingevolge wetgewing kan die naam van ’n beskuldigde in sake van seksuele aard nie gepubliseer word voordat die persoon in die hof gepleit het nie. (Deur Garnett Wicomb en Liesel le Roux)