‘Ek het geweet ons moet dadelik by die hospitaal kom!’

Burnett Beets wat ’n noue ontkoming gehad het toe ’n pofadder hom gebyt het, en sy vrou Barbara, wat met hom hospitaal toe gejaag het. Foto: Verskaf

’N INWONER van die Kleynspoort-boe­re­ge­meenskap net buite Oudtshoorn, Burnett Beets, is op die herstelpad nadat hy verlede Woensdagmiddag deur ’n pofadder gepik is.

Beets was skemertyd, omstreeks 18:00, op pad huis toe nadat hy sy hek gesluit het toe het hy ’n erge brandgevoel in sy kuit ervaar het. Toe hy omdraai, het hy ’n groot pofadder gewaar en besef hy is gebyt.

Beets het sowat 200 meter huis toe gehardloop en vir sy vrou, Barbara, gesê hy is deur ’n pofadder gepik.

“Toe ek die woord pofadder hoor, het ek geweet ons moet hom dadelik by die hospitaal kry,” vertel Barbara. Sy sê die wond het baie gebloei.

Met hul aankoms by die Mediclinic Klein Karoo is Beets gestabiliseer, maar daar was geen teen­gif­middel beskikbaar nie.

Barbara het hom inderhaas in hul kar gelaai en na George gejaag. Sy sê haar man het twee keer op pad na George sy bewussyn verloor, en het erge pyn ervaar.

Beets is in die hoësorgeenheid opgeneem en behandel vir die bytplek. Hy is Maandagmiddag ontslaan, maar daar lê nou ’n pad van herstel vir hom voor.

Slangtyd is hier; wenke wat om te doen
Volgens Mornay Thysse, plaaslike brandweerman en slangvanger, is dit nou met die lente en so­mer daardie tyd van die jaar wat slange aktief is en soms in en om huise gevind word.”

Hier is ’n paar wenke van hom vir wanneer jy ’n slang teëkom.

• Veldmuise en paddas kom dikwels naby huise vir kos, en omdat diere soos hierdie deel van slange se natuur­like dieet is, sal slange in jou huis inseil om kos te vind. Dit is belangrik om kalm te bly as jy ’n slang in jou huis vind.

• Hoewel daar onskadelike slange in die Klein Karoo is, is dit die beste om enige slang as potensieel giftig te beskou.

• Moenie probeer om die slang dood te maak nie aangesien die slang homself sal verdedig en be­dreig sal voel en jou kans groter is om gepik te word.

• Verwyder kinders, familielede en troeteldiere as veiligheids­maatreël van ’n slang, en handhaaf ’n veilige afstand van sowat drie meter of meer.

• Hou te alle tye ’n oog op die slang totdat ’n slangvanger kom. Slange verdwyn baie vinnig en word moeilik weer gevind.

• Hou in gedagte dat die slang waarskynlik bedreig sal voel en met enige beweging na die naaste donker plek sal vlug.

• Kontak jou plaaslike brandweer vir ’n slangvanger.

• Indien jy gepik word: Probeer ’n foto van die slang neem vir identifikasiedoeleindes en kry onmiddellik mediese hulp.

• Beweeg so min as moontlik, bly kalm, moenie die wond sny, suig, ys opsit of elektriese skok toepas nie.

• Onthou: Die algemeenste giftige slang in die streek is die Kaapse kobra. Sy gif versprei baie vinnig en kan lei tot asemhalingsprobleme na die byt. (Deur Angelique Erasmus)