
Saamsing, goeie tye en bymekaarkom het Saterdag 27 September, op Oudtshoorn, die toon aangegee by die Suzuki Safari Town Musiekfees. Vanaf 10:00 het mense ingestroom om saam op ’n lekker sonskyndag fees te vier.
Die musiekprogram het afgeskop met Oudtshoorn se eie Janine Fourie, gevolg deur Rhino & the Rasta, Henru en Schwabie, en die gewilde Refentse. Crimson House het daarna die skare aangegryp met hul unieke steampunk-styl en unieke klank.
Seremoniemeester LekkerNikki het die dag gelei en haar uitstekend van haar taak gekwyt met haar aansteeklike persoonlikheid totdat die komediant Schalk Bezuidenhout van die Jimny-saamtrek by die vieringe aangesluit het.
Teen laatmiddag het Karen Zoid die verhoog oorgeneem en haar treffers het vir hoendervleis-oomblikke gesorg. Kort daarna het die fokus verskuif na die groot skerm waar die Springbokke Argentinië met 67-30 geklop het – ’n oorwinning wat luidkeels saam gevier is.
Die aandprogram het ’n hoogtepunt bereik toe Jeremy Loops en daarna Spoegwolf die verhoog betree. Spoegwolf se Danie du Toit het die gehoor behoorlik aan die dans gesit – en selfs sy hemp op die verhoog geskeur. Early B het die fees afgesluit met sy tipiese energie en lirieke wat woord vir woord deur die skare meegesing is.
Die Suzuki Safari Town Musiekfees het bewys dat dit veel meer is as net ’n musiekfees is – dit was ’n ware Oudtshoorn-belewenis. (ANGELIQUE ERASMUS)

LekkerNikki, Karen Zoid en Schalk neem ’n selfie.

Heerlike sonskyn en ontspan met goeie musiek.

Janine Fourie.