SACBW vereer stigter

Rika Venter, die Stigter van die South African Council for Business Woman (SACBW), is op 23 Augustus 2022 oorlede. Foto: Verskaf

DIE South African Chamber for Business Women (SACBW) het Saterdag tydens hul jaarlikse gala­geleentheid in Mosselbaai die stigter van die orga­ni­sasie, Rika Venter (87), vereer. Venter wat op Oudtshoorn gewoon het, is op 23 Augustus oor­le­de, kort na die dood van haar man, Thinus, in Julie.

Venter het sowat 35 jaar gelede die Nasionale Raad vir Sakevroue (NRS) gestig, wat later na die SACBW verander is.

By dié jaarlikse spoggeleentheid word die nasionale wenners van verskillende afdelings, soos Besigheidsvrou van die Jaar, aangekondig.Vanjaar het die wenner in dié afdeling ’n wisseltrofee ontvang wat na Venter vernoem is. Tydens ’n emosionele huldeblyk is ’n videoboodskap van Venter vertoon waarin die impak wat sy op talle vroue se lewens gehad het duidelik sigbaar was.

Volgens Hanlie Delport, president van die SACBW, was dit vir hulle baie belangrik om Venter se nalatenskap te eer, en die beste manier was om die trofee van die topwenner na haar te vernoem. “Dit sal die volgende generasie sake­vroue inspireer om in die voetspore van ’n legende te loop wat vir ons almal die weg gebaan het om suksesvol te wees.

“Die leemte wat Rika in ons lewens laat, sal vir nog ’n lang tyd gevoel word. Haar motiverings- en bemoedigingsboodskappe word reeds gemis, en ook haar omgee vir elkeen met ’n gereelde boodskap of oproep.”

Delport sê die sukses wat Venter in haar leeftyd behaal het, is iets waarna elke sakevrou in haar loopbaan kan streef. (Deur Angelique Erasmus)