VIER ure van country-treffers wag op konsertgangers wat die eerste Klein Karoo Country Kuier op Saterdag 5 November op die plaas Celebratio op die sementpad buite Oudtshoorn gaan bywoon.
Die sanger Johan Liebenberg, ook bekend as Suid-Afrika se eie Neil Diamond, het die program saamgestel, wat ongeveer 50 van die beste country-liedjies wat ooit gesing is insluit. Hy bring sy hele orkes saam.
Die ander sangers wat gaan optree, is Chris Else, Leah, Chloe Eddy en Mark Haze.
Chris is veral gewild vir sy country- en gospelliedjies. Hy skryf baie van sy liedjies self en sê dis tipiese country-lirieke wat uit die hart kom en ’n storie vertel. In die grendeltyd het hy begin om aanlynkonserte aan te bied en dit was so suksesvol dat hy dit steeds gereeld op Sondae-aande doen.
Hy’t al ’n paar country-albums uitgereik en sê hy het grootgeword met die musiek van Neil Diamond, Bles Bridges en Elvis Presley.
Die veelsydige Leah, wat voorheen die televisieprogram Boer soek ’n Vrou aangebied het, keer terug plaas toe vir die konsert, maar dié keer om te kom sing. Sy sê sy kan nie wag om haar gunsteling-countrytreffers met die gehoor te deel nie.
Mark Haze het bekendheid verwerf toe hy in 2011 se SA Idols-kompetisie tweede geëindig het. Hy’t grootgeword met die musiek van Bruce Springsteen en Queen en vertel dat hy nog net “kniehoogte” was toe hy al Springsteen se treffers woord-vir-woord kon saamsing. Hy het op die ouderdom van sewe sy eerste kitaar gekry en dit gou baasgeraak. Mark skryf ook sy eie liedjies.
Chloe Geldenhuys (Eddy) het in dieselfde jaar as Mark aan SA Idols deelgeneem en in die top15 geëindig. Sy tree gereeld saam met Johan Liebenberg op en het, soos hy, hulle sangloopbane by die gewilde Barnyard-teater begin.
Die eerste Klein Karoo Country Kuier beloof om ’n lekker kuieraand te wees. Die sitplekke is by tafels en daar word ook ’n dansvloer spesiaal vir die konsert ingerig. Konsertgangers kan reeds van laatmiddag af by die kos- en drankstalletjies kuier. Die rugbytoets tussen Suid-Afrika en Ierland sal om 17:30 op ’n grootskerm uitgesaai word en die konsert skop om 19:00 uur af.
Wen! Wen! Wen dubbelkaartjies!
Twee gelukkige Hoorn-lesers kan dubbelkaartjies wen na die konsert. SMS of WhatsApp jou naam en van en jou selnommer voor Maandag 31 Oktober om 10:00 na 082 335 6059 en die antwoord op die vraag: Hoeveel country-liedjies gaan op die program van by Klein Karoo Country Kuier wees?
Klein Karoo Country Kuier: Wen kaartjies!
Die gewilde countrysanger Chris Else is een van die kunstenaars wat gaan optree.
Foto verskaf