DIE drie topposisies in die Kannaland-raad het Vrydag (21 Oktober) weer verander toe nuwe leiers by ’n raadsvergadering op Calitzdorp verkies is.
Jeffrey Donson (Icosa) is terug in die burgemeesterstoel, met Werner Meshoa, ook van Icosa, die onderburgemeester en die Kannaland Independent Party (KIP) se nuwe raadslid, Peter-George Rooi (33), die speaker.
Dit maak Rooi – voorheen van Icosa – die jongste speaker in die Wes-Kaap, en Hyrin Ruiters as Kannaland-verteenwoordiger op die distriksraad.
Ian Avontuur, waarnemende munisipale bestuurder, is met Keith Jordaan vervang, terwyl ’n voormalige munisipale bestuurder Morné Hoogbaardt, aangestel is as direkteur: infrastruktuur.
Donson is by die vergadering met dreunsang deur inwoners verwelkom en sonder enige teenstem tydens die vreedsame raadsvergadering ingestem na ’n mosie van wantroue deur Hyrin Ruiters teen die ANC-burgemeester, Nicolaas Valentyn.
Valentyn en raadslid Alettha Steen-kamp van die DA was nie teenwoordig by die vergadering nie. Steenkamp het verskoning aangeteken omdat sy siek was, maar geen verskoning is van Valentyn ontvang nie.
Donson het in sy aanvaardingstoespraak gesê hy is verbind tot dienslewering van hoogstaande gehalte.
Hy het gesê dat hy nie op die raad gekom het deur middel van ’n proporsionele stem nie maar deur inwoners van Kannaland verkies is.
“Ek het my wyk gewen, die mense moet weet ek het die meeste stemme van al die ander raadslede in Kannaland gekry. Dit beteken ek hardloop na die Bybel toe wat sê: Gee die arbeider wat hom toekom.”
Donson het gesê hy glo dit het tyd geword het dat mense die inwoners van Kannaland die kans gun om hulself te bestuur en die manier waarop hulle dit doen is by die stembus.
• Die herverkiesing van Donson het egter kritiek uit verskeie oorde uitgelok.
Eleanore Bouw-Spies, DA-kiesafdelingshoof vir Kannaland, het Donson en Meshoa se verkiesing gekritiseer en in ’n persverklaring na Donson verwys as ’n “veroordeelde verkragter”, terwyl sy ook verwys het na Meshoa se skuldigbevinding aan bedrog in Junie 2021.
“Met Icosa se geskiedenis van wanbestuur en die korrupsie van Kannaland se munisipale koffers is daar nie veel hoop dat die sake van die munisipaliteit beter hanteer sal word as deur diegene wat by die raadsvergadering uitgestem is nie.”
Ook Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by die burgerregte-organisasie Action Society, het in ’n onderhoud met AfriNuus.com gesê sy organisasie sal aksie neem teen die verkiesing van beide Donson en Meshoa.
“Dit is onaanvaarbaar, en ons sal aksie neem om hulle uit hul magsposisies te verwyder,” was sy woorde. (Deur Stefan Goosen en Deon Meyer)
Donson weer in burgemeesterstoel
Nuwe Kannaland-raadslede wat Vrydag verkies is en amptenare wat aangewys is, is van links Morné Hoogbaardt (direkteur: infrastruktuur), raadslede Hyrin Ruiters (verteenwoordiger Tuinroete Distriksraad), Jeffrey Donson (burgemeester) en Peter-George Rooi (speaker), asook Keith Jordaan (waarnemende munisipale bestuurder) en die nuwe onderburgemeester Werner Meshoa. Foto: Deon Meyer