DRIE Oudtshoorn-fietsryers het Sondagoggend tydens hul oefensessie op die Volmoedpad net buite Oudtshoorn drie mans met ’n duur fiets by hulle opgemerk.
Willem Serfontein, eienaar van Cycle Addict, sê hy het die fiets herken as een van sy kliënte se fietse.
Hy en Corrie Kuilder en Nico Basson het die mans gevra waar die fiets vandaan kom. Een het verduidelik dat hulle die fiets na die eienaar terugneem.
Serfontein sê hulle het egter aan die mans gesê dat hulle die fiets na Serfontein se winkel toe sal neem vir veilige bewaring.
Hulle het die mans genooi om saam te kom en die eienaar van die winkel af te skakel. Die mans het egter nie by die winkel opgedaag nie.
Die eienaar van die fiets, wat gevra het om anoniem te bly, het Serfontein meegedeel dat sy fiets ’n week vroeër gesteel is, en het die fiets as syne uitgeken.
Daar is nie ’n klag van diefstal is by die polisie ingedien nie. (Deur Angelique Erasmus)
Fietsryers vind gesteelde fiets
Willem Serfontein (links) en Nico Basson met die fiets wat hulle op die Volmoed-pad by drie mans gevind het. Foto verskaf