DIE saak teen ’n gastehuiseienaar van Oudtshoorn wat skuldig gepleit het op ’n klagte van seksuele aanranding is in die Oudtshoorn Streekhof vir vonnisverrigtinge tot 16 Mei uitgestel omdat ’n korrektiewe verslag nog nie beskikbaar was nie.
Die 73-jarige Johan Scholtz sê in ’n pleitverduideliking dat hy op 24 Maart 2022 iemand gekry het om die gastehuis skoon te maak. Terwyl die vrou (22) daarmee besig was het hy ’n paar glase rooiwyn gedrink. Hy het dronk geraak waarna hy nie kan onthou wat hy verder gedoen het nie.
Die polisie het hom die volgende dag besoek en meegedeel dat hy van seksuele aanranding aangekla word. “Die klaer het aan die polisie gesê dat ek aan haar borste gevat het en ek kan dit vanweë die toestand waarin ek was nie betwis nie.” Scholtz sê verder dat hy al voorheen dronk was en weet dat wanneer jy dronk is jy dinge doen wat wat jy nie van weet en nie kan onthou nie. Hy erken in sy verklaring dat dit waar kan wees en pleit daarom skuldig.
Die klaer sê in haar verklaring dat sy nie die beskuldigde se naam op haar CV aangebring het nie omdat sy bang was hy gee haar ’n slegte verwysing. “Ek voel ’n vrees elke keer as ek die beskuldigde in die openbaar sien en kry nog nagmerries.’’
Sy het ook gesukkel om intiem met haar kêrel te verkeer. Die staat het Scholtz se pleitverduideliking aanvaar en hy is deur streeklanddros Daniel Boks skuldig bevind. Die hof het die saak op 14 April finaal tot 16 Mei uitgestel ongeag of die verslag beskikbaar is of nie. (Deur Garnett Wicomb)